top of page

Genoeg is genoeg

Deur Chantelle Coetzee


As daar een ding is wat ek geleer het in die lewe is dit dat almal ’n tweede kans verdien en dat almal foute maak, maar as dit meer as twee keer gebeur, moet jy begin wonder of dit ’n fout is of dalk is dit ’n gedragspatroon.


As iemand jou een keer seer gemaak het is die kanse goed dat hulle dit weer sal doen. Dit is baie belangrik om te onthou dat ’n ware vriend/vriendin of pasmaat jou nooit opsetlik sal wil seer maak nie. Mense word manipuleer deur woorde en aksies. Hulle word vasgevang in hierdie spinnekop web van emosionele afkraking.Ek was self in daardie situasie maar gelukkig het ek nou ware liefde gevind na al die teleurstellings.


Daar word altyd gevra hoekom gaan ’n persoon terug na iemand wat hulle seer maak. Jy hoop dalk die persoon sal verander? Jy voel alleen of is bang om alleen te wees? Jy is gewoont aan die persoon en dit is bekend? Dalk is dinge anders die keer? Dit is makliker as om oor te begin? Liefde is blind? Jy dink nie jy verdien beter nie? Jy is dalk afhanklik van die persoon?


Toksiese mense is baie gevaarlik. Hulle weet hoe om heuning om jou mond te smeer en terselfdertyd jou soos niks te laat voel. Hulle geniet dit om speletjies te speel en in beheer te wees van ander. Hulle is gewoontlik baie selfsugtig, egosentries en hulle emosies is soos ’n wip plank. Eendag is jy die maan en die sterre en die volgende dag is jy nie goed genoeg nie.Hulle is ook gewoontlik nooit verkeerd nie en as hulle wel erken hulle was verkeerd is dit as gevolg van iemand anders dat hulle so opgetree het. Wees versigtig vir godsdienstige mishandeling. Hulle geniet dit om die Bybel te misbruik om jou sleg te laat voel of sag te maak. Hulle manipuleer jou met die Woord sodat jy hulle moet vergewe. Geld word ook gebruik as ’n vorm van manipulasie veral as die persoon weet jy is afhanklik. Hulle is ook lief daarvoor om die slagoffer kaart te speel. Woorde is hulle wapen en daarmee kan hulle jou toor.

Die vraag wat jy jouself moet vra is, gaan ek dit verder toelaat? Die tekens is duidelik. Dit is tyd om die lyn te trek . Jou lewe moet nie ’n konstante geveg en emosionele uitputtende rit wees nie. Dit is nie maklik om aan te beweeg nie maar met die krag van die Here is alles moontlik. Moeilik beteken nie onmoontlik nie. Kyk na jouself. Dit is beter om alleen te wees as wat jy saam iemand is wat jou konstant afbreek. Wat vir jou soos ’n ramp lyk, mag dalk net die nuwe begin wees vir jou. God is toegewyd om iets wat dolleeg lyk weer heel te maak.


Daar sal tye wees wat jy verlang en jy weer wil ingee. Tye waar jy oorweldig gaan voel. Tye waar jy begin wonder wat het ek gedoen om dit te verdien. Tye waar jy begin dink dit is jou skuld, wat kon ek anders gedoen het. Moet nooit opgee nie en gryp die swaar tye aan. Gebruik dit om te groei. Maak die deur toe en fokus op die toekoms.


Onthou net, om weg te stap beteken nie jy is swak nie. Dit beteken jy is juis sterk genoeg om te besef jy verdien beter en is meer werd. Jy is geliefd en waardig.

546 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page