top of page

Geseënd Lyk Nie Perfek Nie

deur Bianca Brits



Sal jy sê jy is geseënd? Wat beteken dit om geseënd te wees? Is ons nie geneig om te sê dat wanneer dit goed gaan in iemand se lewe of as dit blyk alles in hulle lewe val altyd in plek, dat hulle is so geseënd nie? Daar is 'n jong mamma se storie wie ek op sosiale media volg. Haar seuntjie het 'n kondisie genoem Spina Bifida. Hy is 9 maande oud - 3 maande ouer as my eie seuntjie. Terwyl ek haar onlangse update lees moet ek trane terugsluk. Volgens sy laaste doktersafspraak doen hy goed en sy ouers is verlig en dankbaar. Hulle kan nou op die volgende stap in sy ontwikkeling fokus: om vir hom 'n rolstoel aan te skaf. My hart wil breek vir hierdie mamma. My woelige seuntjie rol op die bed rond en ek moet net keer voor hy by die rand af is. Handeviervoet staan en wieg hy sy boudjies. Ons wag in spanning vir hom om sy eerste kruiptreë te gee. En die woorde "ons is so geseënd om 'n gesonde, klein seuntjie te kan hê" kom by my op. Maar ek stop myself. Beteken dit dan dat hierdie ander mamma níe geseënd is nie? Net omdat haar seuntjie se grootmaak proses op hierdie stadium meer uitdagend is as myne, maak dit my meer geseënd? Daar is gebeurtenisse in ons lewens waarop ons maklik antwoord, 'Wow!' Jy is geseënd." Wanneer 'n deur vir jou oopgaan vir 'n goeie pos. Wanneer jy bevordering of 'n salarisaanpassing by die werk kry. Wanneer jy 'n eerbare pasmaat ontmoet met wie jy die res van jou lewe spandeer. Wanneer jy vinnig en maklik swanger raak. Wanneer jy in 'n gesogte area woon, 'n spog motor ry en dit kan aankoop wat jou hart begeer. Wanneer jy gesond is, veilig is en geliefd is. Maar wat as... Jy jou werk verloor? Jou salaris gesny moet word? Jy deur 'n egskeiding gaan? Jy sukkel om swanger te raak of of 'n miskraam het? Jy in 'n klein plekkie bly en 'n karretjie ry wat jou net van punt A na punt B kan neem? Jy siek is? Jy nie in veilige areas leef nie? Jy alleen en niemand in jou lewe het? Beteken dit als jy is nie geseënd nie? Wat dan? Is jy vervloek? Of het jy slegte geluk? Of word jy gestraf vir iets wat jy gedoen het? Is 'n perfekte, agtermekaar, volop lewe die indikasie van 'n geseënde lewe? Daar is mense in die wêreld met skynbare perfekte lewens, maar is hulle werklik geseënd? Want terselfdetyd kry jy ander wat bykans niks het nie, maar met die meeste vrede en vreugde lewe. Ek is nie meer geregtig op enige van die goeie dinge in my lewe as die persoon langs aan my nie. Die goeie wat in my lewe gebeur beteken nie dat ek meer van God se goedheid ervaar as iemand anders nie. Alles wat ek het en ervaar is net genade van Bo. En dit beteken ook nie dat die wat sukkel en swaarkry nie ook genade het nie. Die genade kom dalk net in 'n ander vorm. En is dalk juis soveel meer te sprake te midde van die leiding. Die Bybel self sê nie ons is net geseënd as ons ryk, gelukkig, vervuld, en sonder moeilikheid leef nie, maar wel: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang. Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word. Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel." (Matteus 5:3-11) Die antwoord op elkeen van hierdie stellings is" jy is geseënd, want jy het God." Ongeag jou omstandighede, leefwyse, finansiële status, huwelikstatus of werksposisie, jou vlak van hoe geseënd jy is word bepaal deur hoeveel God in jou lewe betrokke is. Sy genade in jou lewe is wat jou geseënd maak, wanr daarin lê die krag, die genesing, die deurbraak. Soos God sê: my genade is genoeg vir jou. (2 Korintiërs 1:9) In ons onperfekte,deurmekaar, val uitmekaar lewe is God daar in elke oomblik - die goeies en die slegtes. Hy vul waar ons voel ons volgens die wêreld se standaarde tekort skiet. Om geseënd te wees gaan nie oor wat jy als aan die buitekant het nie, maar oor Wie jy binne-in jou het. En as jy God in jou lewe het kan jy sê, 'ek ís geseënd.'


568 views1 comment

Related Posts

See All
bottom of page