top of page

GLO SOOS ñ KIND

Ek kan vir ure verwonderd na ons meisiekind kyk. Sy speel vreesloos, lag uit haar maag uit, word vuil en geniet letterlik elke oomblik. Sy hou haarself besig met die kleinste goed en sien ook die fyner dinge raak. Sy spring met vreugde in haar Pappa se arms in want sy weet hy gaan haar vang, ons dwaal hand-aan-hand deur die tuin opsoek na skoenlappers of bekyk die voëltjies. Keer op keer hoor ek net ‘mamma mooi’ . Soms iets so eenvoudig soos ‘n droë blaartjie is vir haar die mooiste ding.


Ek besef sy word groot en ek as mamma wil graag hê dat sy ewig hierdie kosbare eienskap moet behou om met sulke oë na alles te kyk. Om eerder die mooi in alles raak te sien, al veroorsaak dit soms ook seer.

Die Here stel dit vir ons duidelik om soos ‘n kind te bly glo, sterk in geloof te staan. My meisiekind weet dat as sy spring haar Pappa haar gaan vang, en net so moet ons ook onthou dat wanneer ons in ons probleme verdrink dat ons Hemelse Vader ons ook sal vang.


“Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas. Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.””

‭‭LUKAS‬ ‭18:15-17‬ ‭AFR83‬‬


Stel jou vertroue in hom, Mooistevrou, en jy sal die wêreld deur ander oë sien. Jy sal die mag hê om jouself deur Sy oë te sien. En wat ‘n belewenis - om te weet ons God het groot drome oor JOU! Ander se opinies maak nie saak nie.

Aardse dinge bring nie geluk nie - dit kom van binne, deur die vreugde wat Hy vir ons gee.


Soos wat jy jou liggaam moet voed, moet jy jou siel voed met God se woord. Geloof is die goue sleutel tot lewenslange geluk, en dit is dan makliker om vrede te maak met jou omstandighede, jy maak vrede met jouself. Jy voel jy behoort en dit gee aanmoediging in alles wat jy aanpak.


Ek kom tot die besef dat ons so deur die lewe jaag en alles net as vanselfsprekend aanvaar en soms die mooi heeltemal mis. Maar nou, soos die kleinste blom wat my meisiekind pluk, het ek meer waardering voor en my hart is diep dankbaar. Bloot vir die feit om tyd saam my geliefdes te kan spandeer, my meisiekind groot te maak volgens God se wil, meer aandag te gee aan die klein fyner goed wat deur ons God geskape is.

My wens vir elke vrou in hierdie nuwe jaar wat voorlê is om vrede te ervaar. Een klein treetjie kan dalk die grootste stap wees in jou lewe.

Glo soos ‘n kind - die beloftes in God se woord is waar, ook vir jou! Jou doel op aarde is soveel groter as wat jy dink.

Geseënde, gesonde & voorspoedige 2022, Mooistevrou!

229 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page