God se plan, in Sy tyd
Dinge gebeur nie altyd soos ons dit beplan nie. Dis menslik - ons beplan die dae vooruit, elke ding presies hoe dit ons sal pas, in ons perfekte tyd ook.
Die lewe is egter nie sonder struikelblokke nie, mislukking en teleurstelling vind plaas en onmiddellik bevraagteken ons, daardie gewilde ‘hoekom nou, hoekom ek’ word gedurig gevra. Mislukking is nie deel van die lewe se struikelblokke nie, dit vind plaas wanneer ons toelaat dat hierdie struikelblokke ons op ons reis stuit. Ons word vinnig mismoedig in ons wagperiodes dat ons sommer wil handdoek ingooi omdat ons plan nie uit werk nie.
Ons kan nie beheer wat met ons gebeur of wanneer nie, maar hoe ons daarop reageer het ‘n groter impak op nou en in die dae wat voorlê.
“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.”
SPREUKE 3:5 AFR83
Jou ingesteldheid het dus baie krag. Ek glo dat suksesvolle mense nie suksesvol is oor meer vaardighede of dié wat meer talente het nie. Suksesvolle mense het die ingesteldheid van sukses, selfs gedurende moeilike omstandighede.
Die geheim is om die proses te vertrou, al is dit ‘n moeilike reis. God is besig om jou te ontwikkel en te vorm om Sy plan uit te kan voer. God stuur ons deur strektydperke om ons verstandelik en geestelik voor te berei vir die bestemming waarheen ons reis.
Jy is nie blind vir jou omstandighede as jy met sekerheid volhard in onsekere tye nie. Jy gaan vrees beleef, jy gaan seer kry, jy gaan teleurgesteld word, maar as ons as volgelinge van Christus kies om geloof te hê te midde van vrees en onsekerheid, steeds bly glo sal jy verseker weet dat God in alles voorsien wat op jou reis benodig word.
In tye van onsekerheid, dien jy ‘n getroue Vader. Ons leef in ‘n wêreld vol perke, maar weet verseker, ons God het geen perke!
God is betroubaar, Sy Woord is betroubaar en Sy plan is perfek vir jou, asook Sy tydsberekening.
“Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.”
PSALMS 18:30 AFR83