Growth Spurts & Sleep Regressions
As hierdie nie vir jou ‘n koue rilling teen jou rug af gee nie, het jy verseker ‘n geheim wat ek graag van wil weet
‘n Mamma het konstant iets nuut om te leer en daar maal daagliks vrae in ons koppe:
“Is ek genoeg vir my kind?”
“Wat kan ek anders doen?”
“Verstaan ek hoekom hierdie gebeur?”
“Eet my kind reg, genoeg?”
“Wat veroorsaak nóú hierdie slaap versteurings?”
Net om ñ paar te noem!
Die laaste paar dae, wat voel soos weke, in ons huishouding was wild. As sussie aan die slaap is, voel dit of ons op ons tone verby haar kamerdeur moet sluip net sodat sy nie wakker word nie.
Die druk wat mamma’s ervaar is soms oorweldigend. Mens lees op sosiale media van mamma’s wat sukkel met hulle kinders, en by ander lyk dit asof dit net nie kan beter nie.
Maar, kom ons wees ‘raw & real’ gou vir ñ oomblik - elkeen het sy fase waar dit voel of ons net nie voor kom nie, elkeen wys dit anders en sommige glad nie.
In ons huis word dit nie beskou as ‘n growth spurt of ‘n sleep regression nie, néé, hierdie is ‘n tydelike fase van intense groei. Hierdie fase verg ñ bietjie meer geduld, liefde en aandag. Dit dwing jou ook meer op jou knieë om jou klein lyfie in die oë te kyk en gerus te stel, en terselfdetyd ‘n skiet gebed te doen dat die Here jou in die rigting sal lei hoe om hierdie ook te hanteer of om vir jou die nodig kalmte te sal gee as hierdie woelwater al jou geduld verg.
Het ons as ouers dan nie ook sulke groei fases nie? Ons groei daagliks in ons beroepe, huwelike, as ouers. Soms is hierdie groei seer, dit veroorsaak dalk konflik en verandering. Ons ervaar hierdie groei soms deur ‘n verlies ook. Hierdie groei druk ons soms uit ons gemaksones uit, maar as God jou iewers wil he, of jou iets wil leer, gaan dit nie gemaklik gebeur nie.
Groei druk my terug op my knieë, ek vra konstant vir die Here om my te lei, om my te wys waarheen ek oppad is en of ek die regte ding doen. Dis soms moeilik om moed te hou in ‘n groei fase, want dis altyd ‘n storm voor die kalmte. Ons verstaan nie dadelik die moeilike tye nie, ons vra hoekom en die tydsbereking pas nie altyd by ons in nie.
Soos wat ek afsak op my hurke om my meisiekind in die oë te kyk en haar rustig maak en weer te verseker dat sy veilig is by my, dat groot emosies okay is, dat ons kan huil tot ons beter voel, besef ek dis presies wat ons Hemelse Vader wil hê - Hy wil hê ons moet net stil word om Sy stem te hoor te midde van ons chaos.
Daar is vrede in Sy teenwoordigheid. Hou vas aan hom in elke groei fase van jou lewe, Hy sal jou nie die storm alleen in stuur nie. Hy bly getrou aan Sy beloftes.

Foto - Jasmin-Chew