Gun mekaar goedheid
Elkeen verdien ‘n plekkie in die son - wie is ons om te besluit wie of wie nie dit verdien?
Daár is tog mense sonder hart en siel en daar is ‘n plek vir hulle gemaak, maar meeste van ons hier op aarde het ‘n goeie hart en geestelike siel, maar tog is daar mense wat hierdie vlammetjie probeer dood druk. Hoekom? Ek weet nie… Ek wens ek kon vandag vir jou ‘n antwoord gee.
Ek wens almal kon mekaar goedheid gun, maar soms kry ‘n persoon of persone dit so goed reg om jou nie daardie goedheid en geluk te gun nie. “Geluk-steelers.” Dit is wat ek hulle noem. Mense wat al die sonskyn vir hulle-self wil hou. Wat nie wil deel of selfs uitdeel nie.
Dit gebeur daagliks. Begin van kleins. In die skole, sport spanne, werksomgewing en dan ook vriende groepe. En oor die algemeen in die lewe self.
Het jy ook ‘n geluk-steeler in jou lewe? Of is jy dalk iemand se geluk-steeler?
Die lewe homself is moeilik genoeg, finansies, ekonomie, siektes, oorloē, dood… ek voel dit is nie nodig dat die mens nog moet kompeteer met die een langs hom of haar. God het ons hier gesit om die aarde ‘n mooi plek te maak, om mekaar lief te hê, maar dit gebeur nie só nie. Ons as mens is so skuldig. Ons oordeel. Ons hê nie lief. Ons vergewe nie. Ons besluit. Ons speel “god.”
Harte is kwesbaar. Die sagste mees kosbare ding. Kry maklik seer. Tog kies ons om ander s’n te kwes…
Ons kies opinies bo die waarheid. Ons kies skinder bo feite. Ons kies beroemdheid bo egheid.
Ons KIES om oë toe te knyp en te glo sonder om te hoor.
Ons laat ons eerder oor aan die boelies van sosiale druk, die skerp tonge, solank ons net vir onsself nie hoef op te staan nie. Nog minder vir ander.
Hoe wil jy hanteer word? Wees daardie tiepe mens.
Ek het in die week ‘n skryfstuk op Facebook gelees, kan ongelukkig nie onthou wie die skrywer was nie en dit het baie dieselfde punt wat ek het vandag. Die stuk gaan oor ‘n skoolkind wie nie in die “cool-groepie” is nie, asook wie effe sukkel op skool, ‘n emosionele kind en hoe swaar dit vir so tiepe kind is om daagliks op te daag en te wees. Iemand wat eerstens probeer sin maak van die lewe en tweedens probeer inpas. ‘n Kind wat alleen voel, afgesonder voel, met ‘n vol hart om te gee, maar niemand wie sy hart raak sien nie. Die stuk het my só geroer. ‘n Hart en siel wat daagliks op getrap word.
Soms wil ons net al die mooi dinge van die lewe lees en oor skryf, maar soms is dit ook nodig om die harde feite neer te pen. Is jy daardie kind? Hoe sou jy voel as jou eie kind daagliks so gevoel het?
Of is jy deel van die samelewing wat ‘n siel-trapper is? Iemand se sonkolletjie steel?
Die lewe is kort. Korter as wat jy dink.
Gun mekaar goedheid.
Gun mekaar guns.
Guns mekaar geluk.