deur Lericia Janse van Rensburg
Deesdae voel dit of iemand ure by my dae steel, want 24 uur is net nie meer genoeg nie. Tussen skool hou, werk, huis skoon maak en buitemuurse aktiwiteite, weet ek nie meer hoe warm koffie proe nie. Vir die laaste drie dae is dieselfde episode van Friends gepause, want ek kry net nie tyd om te sit, my koffie te drink en te ontspan nie.
Die lewe is een groot gejaag van punt A na punt D, terwyl jy sommer punt B en C so in die hardloop afhandel.
Vrydag oggend staan ek op, reg om weer resies te jaag teen my tyd, toe ek 'n vuurwarm peuter teen my bors vasdruk. Ek neem dadelik haar temperatuur terwyl die ketel die bure wakker fluit. Die 39.1 lesing dwing my tot stilstand. My kind is siek.
Nadat ek haar lyfie afgespons het en weer haar temperatuur geneem het, vra sy of ons Heide kan gaan kyk. Ek bêre my dagboek, gooi kookwater by my koffie en gaan lê langs haar op die rusbank. My Friends episode sal maar weer moeg wag.
Terwyl ek 'n sluk van my warm koffie vat en die kosbare oomblik saam met my dogtertjie indrink, word ek daaraan herinner dat dit nodig is om soms jou lewe se pause knoppie te druk en die oomblik te geniet.
Ons is so besig om deur die lewe te jaag, dat ons verleer om asem te haal en die kosbarhede in die lewe in te neem. Ons mis die lewe se mooi en beweeg so vinnig verby mekaar, dat ons vergeet wat belangrik is.
Moet nie so gefokus wees daarop om 'n lewe te maak, dat jy vergeet om te leef nie.
“Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd” -Prediker 3:1
“As Yahweh die huis nie bou nie, tervergeefs werk die wat daaraan bou; as Yahweh die stad nie bewaar nie, tervergeefs waak die wagter. Tervergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet- net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap.” Psalm 127:1-2
Weet dat Yahweh sal voorsien. Jy hoef nie toe te laat dat die gejaag van die wêreld jou kosbare album bêre tye steel nie.
Wanneer laas het jy net asem geskep, 'n warm beker koffie gedrink en die oomblik waardeer?
Gebruik jou pause knoppie, haal asem en geniet daai koffie terwyl dit nog warm is. Mộre het jy weer 24 uur.