top of page

Haar waarde is meer werd as korale…

Sy het ñ kernrol - Sy is die een wat ñ jong lewe bewaar in haar moederskoot vir 9 maande, en die jare daarna op vele ander maniere beskerm….


Met vele opofferings, baie uithouvermoë, ongesiene trane, en veel meer gebede is haar liefde onvoorwaardelik.


Haar titel wat sy daagliks trots dra:

Mamma, Moeder, Ma….


Sy is die een wat nagte om jou styf teen haar bors vasgedruk het toe jy ‘n pap babatjie was, met oë vol liefde en deernis na jou omgesien het terwyl die wêreld stil raak. Soms het sy alleen in haar eie wêreld gevoel, en gewonder hoe gaan sy jou groot kry. Maar Mammas kan baie dinge doen, en om jou groot te kry is een van hulle waarop sy trots is - baie trots is.

Op ñ 27-jarige ouderdom het ek my Mammie, soos ek haar noem, steeds só nodig. Wanneer ek siek voel, rol ‘n traan oor my wang bloot vir die feit - ek soek my MA! En ek besef die groot & sterk fondasie wat ‘n Ma neerlê….


ñ Voorreg, ñ enorme voorreg om vandag steeds my Mammie te hê en ñ Mamma te wees.

Dis weer Mei-maand. Moedersdag-maand…

As jy nog van die gelukkiges is wie se Mamma hier is, waardeer haar. Druk haar, soen haar. Stuur ‘n boodskap en bel haar. Neem haar soet-stem in.


’n Ma is die draer van alles wat veronderstel is om haar te breek. Sy is die anker in die storms wat wild woed in en om haar huis, al is sy self broos en kwesbaar.

Maar in elke môre vind sy nuwe krag om oor te begin. Haar moeë liggaam kry nooit die rus wat dit verdien nie. Sy moet buigsaam wees, en nederig. Sy hou aan om te gee, sonder om te verwag.


As jy na haar soek in die oggend, werskaf sy in die kombuis, wanneer almal slaap sleep haar voete deur die huis om op te ruim en daardie laaste bondel wasgoed op te vou of nog iewers iets netjies te maak.


Sy gee vrylik

Sy is die opvoeder

Sy is die tuisteskepper

Sy is die vrou, die hoeksteen en anker van die gesin.

Jy sal haar nie sommer hoor kla nie.


Sy is sag en uit liefde aan mekaar geweef, waar tyd, geduld en liefde geen perke ken nie.


Haar trane word voor die Here gestort, en deur alles waarmee sy ook worstel, bly sy die gom wat alles bymekaar hou, kom wat wil.


Moeders moet vereer word - nie net een keer ñ jaar nie.

Maar daagliks, want sy is meer werd as korale.


Opgedra aan my Moeder, Susan. Dankie Mammie - ek sou nie kon wees wie ek is sonder Mamma se fondasie nie.


349 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page