Hanteer wat jy kan beheer.
Wat ‘n wyse waarheid. As jy soos ek, ‘n beheervraat van formaat is, is hierdie sin dalk juis wat jy nodig het om te hoor. My gedagtes vind deesdae nogal moeilik skuilplek, dis asof dit konstant opsoek is na die volgende ding wat op die to-do lysie te voeg, of dit verlang na dae en plekke en mense wat nou net ‘n mooi herhinnering moet wees. Dit gaan maak ‘n draai by ons goeie ou vriend ‘Wonder’ daar in ‘Wat As’ se straat. So nou en dan stop dit by ‘n verkeerslig, want die krag is af en ek moet werklik fokus wat om my aangaan.
‘n Vroutjie sê nou die dag vir my, ons hoef nie aandag te gee aan die mense wat hulle flikkers gebruik of by ‘n spoedgrens bly op die snelweg nie, ons moet aandag gee aan dié wat soos hooligans ry. Sy vertel my dat ons brein ook so werk; ons maak konstant ‘n skeiding tussen ‘veilig’ en ‘gevaar’ en hoe ons daarteen reageer.
Weereens, weet ek nie of ek my gedagtes jaag en of my gedagtes my jaag nie – maar ons hardloop in ‘n sirkel van absolute waansin, soos daardie liedjies wat jy nie eintlik weet hoe om op die ‘beat’ te dans nie. Soos Staying Alive van die Bee Gees. Dis ongemaklik en uit ritme. Dis bietjie hoe ek nou voel, in die middel van Februarie. Ongemaklik en uit ritme. Ek wil graag hoor dat ek nie die enigste een is wat so voel nie, maar ek leer ook dat dit okay is indien ek wel die enigste een is wat nou so voel.
Wanneer het ons moeg geraak in die middel van Februarie? Soos die tipe moeg waar jou hart en siel en gemoed mekaar pep-talk om die goeie geveg te bly veg terwyl jy na die sirkus om jou kyk en jou bes probeer om nie deel van die rooi-neus & fake glimlag patrollie te word nie. Die tipe moeg waar jou liggaam nie meer weet watter gogga’s om te veg; die kieme wat nog rondhang van ‘n pandemie of die gewig van ander mense se opinies, dit wonder ons terwyl ons met ‘n lekker kuggie die volgende stel oefeninge doen, want durf net nou opgee op daardie ‘New Year, New Me’ challenge, dan is die res van die jaar ook mos daarmee heen.
Ons is besig om onsself siek te maak. Ons blameer so graag die ‘samelewing’ vir elke nuwe trend wat teen ons geloof en beginsels gaan, maar skroom nie vir ‘n sekond om ons eie opinie daaroor te lig nie. Is nog ‘n opinie werklik wat ‘n situasie kan verander? Wanneer het ons vergeet is ook deel van die ‘samelewing’ en ons mag ook ons manier uitleef. Ons hoef nie aand-na-aand en maand-na-maand die leanste kos te eet, die 15km gaan draf of die nuutste uitrustings te dra nie. Ons hoef nie elke Vrydag in ‘n rooftop bar te sit en te ‘cheers’ op ‘n suksesvolle week, terwyl die glinster in jou oë eintlik die vlak trane is nie, nog meer, daardie onnatuurlike filters. Ons kla graag oor die lysies wat die samelewing so graag voor ons neus rond waai, maar hoekom herskryf ons nie daardie lysie nie? Ons is dan immers deel van die samelewing! Outnumbered, beteken nie invalid nie.
Net soos ons onsself siek maak met hierdie hondeskou van beter wees, beter doen, meer wees, meer hê, meer gee, en gelyk ook genoeg #SelfLove toepas.. so kan ons onsself gesond maak ook Met die regte liefde, die real wees en die deel waar ons weer iets doen sonder eers daaruit te baat.
Jesus het vir ons ‘n nuwe wet gebring, dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet. Begryp ek en jy werklik hoe lief Hy ons het. Ek dink as ons dit werklik begryp het, sou die liefde in ons samelewing ietwat anders gelyk het.
Nietemin, moet ons hanteer wat ons kan beheer. Ek en jy kan nie beheer hoe ander mense gaan reageer nie, so ek hoop dat jy die vrymoedigheid het om nooit jouself kleiner te maak sodat jy plek kan hou vir ‘n ander se ego nie. Ons weet nie wat die dag van môre inhou nie, so miskien kan ons bietjie minder daaroor bekommer; ek besef dis makliker gesê as gedaan – ons almal het verantwoordelikhede, maar gaan ‘n gebed ons nie verder bring as ‘n ge-worry nie? Ons onderskat die krag van gebed so graag, want ons wil teveel beheer wat ons nie kan hanteer nie. Hou op fokus op die dinge wat jy nie kan beheer nie, en kies om jou fokus te verskuif na iets wat jy kan kies. Dit is nie altyd lekker nie, want dit verg dat jy intensioneel met jou gedagtes en aksies moet wees, en soms is dit net makliker om vir die hooligan voor jou te toot! Maar jy sit nie agter sy stuurwiel nie, jy sit agter jou eie stuurwiel.
Dit is so in die lewe ook. Ons kan inspraak maak in ander mense se lewens, hetsy positief of negatief, maar ons sal nooit kan begryp hoe dinge op ‘n oomblik vir die persoon aan die ander kant lyk nie. Ons kan dit nie beheer nie, maar ons kan dit hanteer met bietjie meer liefde, compassion en genade. Ek wil amper sê dis soos Sunlight, a little really does go a long way.
Dink jouself in hoe jy gevoel het die laaste keer wat iemand vir jou gewaai het, teenoor die laaste keer wat iemand voor jou ingery het. Jy kan nie een van die twee situasies beheer nie, maar net omdat jy dit nie kan beheer, beteken nie dit hoef ‘n negatiewe uitkoms te hê nie.
As ek vandag kies om jou kliphard lief te hê, is daar absoluut niks wat jy kan doen om my te keer nie. As ek kies om vir jou te bid, is dit heeltemal buite jou beheer, maar buite beheer beteken nie dit gaan ‘n negatiewe uitkoms hê nie.
Miskien moet ons bietjie fokus om onsself en ons denkpatrone bietjie te re-wire. Soos ‘n rekenaar upgrade; net in ons gedagtes. Miskien moet ons bietjie die feit dat ons nie alles kan beheer nie embrace, want dit het nie altyd nodig om ‘n negatiewe uitkoms te hê nie. Miskien moet ons oefen om net te hanteer wat ons kan beheer, want die lewe is so kort om ekstra stukkies van alles wat ‘veilig’ en ‘gevaarlik’ om ons saam te vat op hierdie reis vir ingeval ons eendag face-to-face met so situasie kom. Een ding is ek seker van, God se genade sal jou daar ontvang, wanneer dit tyd is om dit te hanteer. Intussen, hanteer wat jy kan beheer en laat die res oor aan Jesus. Hy het elke straat, afdraaipad, stopstraat, spoedgrens en spoedhobbel reeds uiteen gelê. He’s got your back girl, He goes before you. Vat dit, koester dit, onthou dit en GLO dit.
Baie liefde!
Rouxnette