Met watter lens benader jy die lewe?
Deur Lizette Volkwyn, Meester Lewensafrigter, Gepubliseerde Skrywer en
Waarheidskonsultant
Ek is ‘n Christen. ‘n Positiewe meester lewensafrigter en ongeag wat die lewe ons gooi sien ek altyd die lig aan die einde van die tonnel, maar ek kry my dae waar ek alles in twyfel trek.
Ek bevraagteken alles: as ons God ‘n God van liefde is, hoekom is daar soveel hartseer en pyn as gevolg van die virus; hoekom voel dit asof die wiele afval al bid ons deurdringend vir oplossings? Ek is so positief, hoekom begin ek wonder of ek aan depressie ly? Wat is besig om te gebeur?
Dis in hierdie oomblikke waar ek terug keer na my kern waardes en weereens my fokus terug trek na ons elkeen se doel op hierdie aarde.
Waar moet ons fokus wees?
Een van my vriende het sy werk verloor kort na die begin van die pandemie. Hier het sy stryd begin om weer ‘n werk te kry - wat se ‘n mens vir jou vriend en hoe bly jy positief (as jy jouself in die situasie bevind) te midde van die donker wolk wat oor jou hang?
Ons hoef nie altyd die antwoorde te he nie. Ons hoef nie altyd sterk te wees nie, maar ons MOET ten alle tye onsself herinner waarop ons fondasie gebou is asook wie en wat ons is.
Hoe bly jy positief ten midde van alles? Hier is ‘n paar wenke wat ek met my kliente deel wat hulself met die gedagtes vind - wat met doelgerigtheid kan help om geleenthede raak te sien en te groei.
Staan vas op jou fondasie
Dit is menslik om in alles te begin twyfel, maar parkeer die emosies vir ‘n oomblik en kyk na jou doel op aarde. Ons is net reisigers, op ‘n platform in tyd. Ons einddoel is hiernamaals en ons fokus moet wees om te verseker ons be-erwe die geleentheid.
Aan die ontvang kant, moet ons besef hoeveel keer deur ons lewe was ons versorg, wanneer ons geen uitkoms gesien het, of daardie net betyds uitkoms wat vir ons bewerkstellig is.
Daar is ‘n se ding waarin ek altyd vashou wat se: “God se tydsberekening is nooit laat nie”. As ons met eerlikheid terugdink op ons lewens het ons nie n keuse as om saam met dit te stem nie.
1. Erken jou patroon en bou op dit
Jou patroon is die manier waarop jy reageer as die lewe vir jou ‘n vuishou (of twee) gee. Kyk na jou patroon en jy sal besef dat elke keer wat jy ‘n vuishou gekry het, terug baklei het, dit oorleef het en sterker daaruit gekom het.
Ons patroon kan nie jok nie, dit is inherent wie ons is. Dis ons persoonlikheid; ons kern waardes wat ons dryf om elke keer ‘n plan te maak, ‘n oplossing te vind en uiteindelik te aanvaar en weer vorentoe te beweeg.
2.Begin met ‘n dankbaarheids mantra
Dankbaarheid verskuif ons fokus van die donker gat wat onsself bevind tot ‘n fokus van hoop en n gevoel van vervullendheid.
Ek daag jou uit om van vandag af, elke oggend wakker te word en aan drie goed te dink waarvoor jy dankbaar is. Die geheim is om elke dag iets nuut te kry om dankbaar voor te wees.
Kort voor lank gaan jy besef: die lewe, die ‘rollercoaster’ wat ons ry, is net die platform en daaroor het ons geen beheer nie, maar ons het beheer oor hoe ons die ‘rollercoaster’ benader en ry.
Jou dankbaarheid gaan jou na positiwiteit en oplossings toe trek.
3. Aanvaar realiteit, d.w.s. dit wat ek nie beheer oor het nie
Dit is seker die moeilikste wenk wat ek vandag gee, en dis heeltemal normaal dat die rebel in ons wil se, ‘nee, ek wil my voete en arms skop, ek wil ‘n vloermoer gooi’...
Ja, die dood is om ons, ekonomiese teenspoed is ‘n werklikheid en verbrokkelende verhoudings sien ons meer en meer.
Hoe gouer jy die situasie sien vir wat dit is, besef dit waarteen jy baklei kan jy nie verander, maar jy kan die manier hoe jy vorentoe beweeg en reageer verander.
Jou magteloosheid na ‘n gevoel van beheer en fokus sal jou perspektief verander.
4. Emosies jok vir ons
Emosies verdof die werklikheid en maak situasies baie groter of baie kleiner vir ons en dan verloor ons hoop.
My raad aan almal: ignoreer jou emosies (vir nou). As jy jou emosies kan parkeer vir ‘n oomblik en realiteit kan besef, jy soveel meer oplossings sal sien as deur ‘n emosionele bril. Dan ook kan jy jou verwagtinge hergroepeer, jou kernwaardes ontferm en jou beplannings aanpas om vir jou te werk.
Emosies is ons uitlating vir onvervulde verwagtinge, kernwaardes wat gekruis is en beplannings wat in die wiele gery is.
Die lewe is nie regverdig nie. Jy mag dalk nie hou van wat om jou gebeur nie, maar jy het altyd ‘n keuse oor hoe jy die lewe bekyk en benader. Maak die keuse vandag om positiwiteit en wie jy is in ‘n vennootskap te sluit wat onkeerbaar is vir ‘n toekoms wat vir jou gaan werk.