top of page

HOE KLINK JOU LIEDJIE?

Die afgelope twee dae speel daar 'n liedjie op herhaal in my kop. Dis nie 'n bekende liedjie nie, inteendeel, ken ek eintlik glad nie die woorde nie – net die wysie. Dit het iets te doen met mooi blomme en pienk rokkies. My twee en 'n half jarige het dit sommer so in die verbygang “geskryf”. Dis nou deesdae haar nuutste ding. Elke nou en dan sal sy spontaan begin dans en haar eie liedjie opmaak, en hom dan klip hard sing- selfs in die Pick 'n Pay ry.


Haar liedjies het altyd 'n vrolike trand. Waarvan die hart mos vol is, loop die mond van oor.


Terwyl ek vanoggend die wasgoed ophang en haar liedjie neurie, begin ek wonder hoe my eie lewe se liedjie sou klink as ek sommer net een moes opmaak.


As ek nou baie eerlik met myself moet wees, sou dit tien teen een nie so vrolik soos haar liedjie wees nie. Dit sou oorlaai wees met vervelige frases soos:

“Die week is te lank”

“Ek is moeg”

“Ek stres oor dit”

“Dis alweer beurtkrag”

“Ek kort nog koffie”


Ons is so geneig om die lewe te ernstig op te neem en net die negatiewe kant te sien, dat dit makliker is om te kla as om jou wysie te verander. Ons vergeet dan sommer maklik dat ons liedjie eintlik kan oorloop van vrolike frases soos:

“Ek het meer as genoeg”

“Dis alles net genade”

“My huis bars uit sy nate van liefde”

“Ons is geseënd”.


Die lewe kan vinnig soos werk begin voel as jy alles te hard oordink. Maak 'n doelbewuste besluit om die lewe te geniet en die mooi wat dit bied raak te sien.

Geniet jou lewensreis en die avonture wat daarmee saam kom. Kies om te leef en leef dan voluit. Wees jou eie treffer wysie in 'n wêreld vol tranetrekkers.


“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat op 'n heuwel geleë is, kan nie weggesteek word nie.” -Matteus 5:14.


Glo dit of nie, jy kan self kies hoe jou liedjie klink en waaroor dit handel.


Maak tyd om te lag en vergeet om te kla. Sing spontaan in die Pick 'n Pay ry en bestel daai pienk melkskommel.


Gee jou leisels bietjie skiet en moet nie die lewe te ernstig op neem nie. Jy mag dalk net 'n treffer liedjie raak leef – een wat almal op herhaal sal wil speel.


579 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page