Hoe lyk jou hemel?
Almal wat God se kinders is het al op een of ander stadium gewonder, gespekuleer, gedroom, geskets oor hoe die hemel lyk. Hetsy dit nou was toe jy vier jaar oud was of selfs op die ouderdom van sewe-en-twintig. Ons kan nie help om nuuskierig te wees oor dit nie.
Vir my lyk die hemel na ‘n plek van skoonheid, gevul met mense met breë glimlagte en almal dra natuurlik wit klere (seker waar my groot liefde vir wit vandaan kom), kindertjies aan die voete van God en spekvet diere oral. Die geluid van die see in die agtergrond en ‘n permanente lig wat helder oor almal skyn. Wat vir my die meeste uitstaan as ek dink hoe die hemel moet lyk, is die opregte vrede wat op almal se gesigte lê.
Want was is die hemel dan nou anders as oneindige vrede en vreugde…
Die mens op aarde is konstant soekend na daardie vrede, maar dis die prys, wat Christene ontvang, eers die dag as jy jou kop neer lê en jou siel op vaar na die hemele, dis dan wanneer jy hierdie gaan ervaar. Dis dan wanneer jy jou eind punt bereik. Die punt waaroor ons almal wonder.
Of die hemel nou ‘n fisiese plek is, of net ‘n skepping is vir jou siel, dié hemel is iets waarna ons uit sien. Tog weet ek dat party mense, eintlik ‘n hele klompie mense ‘n vrees ervaar as hulle dink aan die hemel. Want dis onbekend, en dit is die ding wat ons mense tog die meeste angs laat veroorsaak. Die hele idee van hemel en dood stap hand en hand en mense is bang vir die dood. Ek was vir lank een van daardie mense! Maar dis ‘n besluit wat jy as mens ongelukkig net self kan maak, die besluit om nie bang te wees nie. Gee jou volkome oor aan God, ek belowe jou jy gaan uit ‘n ander oogpunt na die dood en dan die hemel wat volg, kyk.
Ek dink die hemel is iets wat konstant in ons gedagtes moet rond “float.” Dit moet soos jou eind-bestemming wees, die ding waarna ons toe werk. Die “after life” waarna jy uit sien. So skep jou ideale hemel in jou gedagtes, praat met God, vra vir rustigheid, bid vir leiding.
Ek is gelukkig op aarde en ek probeer elke dag die beste weergawe van myself wees, maar ek weet hier is nie waar ek hoort nie. Hier waar ek nou is, is slegs die plek (fase) wat bepaal waar ek wel eendag gaan wees.
So hoe lyk jou hemel? In my hemel dra ons verseker almal wit linne klere…