• Noelene Bester

Hoe lyk vrou-wees vir God?

Vrou-wees lyk anders by die huis, in die dorp, op sosiale media en selfs by die werk. Maar, die belangstikste vraag is egter: Hoe lyk vrou-wees vir God?

Ons voel soms dat ons 99% van die tyd met ‘n glimlag op ons gesigte moet rondloop, hare perfek gestileer, mooi en duur klere met ‘n bypassende hoë haak skoen en ‘n leer handsak wat blink oor jou skouer. Van buite lyk dit dat jou lewe alles is waaroor jy droom, dat jy presies weet waarheen jy oppad is en wat die toekoms mag inhou.


Maar sjoe, is hierdie nie net ander se verwagtinge oor jou nie? Ek is goed vertroud met ‘n mengelmoes van emosies, partykeer sommer paar op een dag, en sommige dae borrel my geluk van binne dat ek werklik net kan glimlag, opreg glimlag.


Ek het dalk meer ‘bad hair days’ in ‘n week, maar ‘n mooi knippie laat my beter voel. My winterstewels het ‘n hoë haak maar dis ongemaklik, so ek trek sommer eerder my paar ‘pumps’ aan wat dalk uit die mode is. My klere is veel eerder prakties as prentjiemooi.

Die perfekte prentjie van vrou-wees op die televisie lyk of ons gek is oor huis skoonmaak, bo-baas baksters in die kombuis, ons kinders is stroopsoet en wanneer ons op ons slegste is raak ons net liggies ontsteld. Elke tweede dag ‘n groep vriendinne verwelkom en koffie saam drink, opvang oor alles en sommer raad uit deel oor elke probleem onder die son.

Maar in die werklikheid sleep jy dalk jou voete uit die bed, los die wasbak wat kreun met skottelgoed vir later, sit ekstra grimeering op om jou dik oë weg te steek. Dit voel of jy uit balans leef want jy vriendinne word “afgeskeep” maar eintlik gebeur die lewe intussen. Jou werk eis teveel van jou en steel jou geluk. Dit veroorsaak dalk dat jy voel jy nie jou sterkpunte, drome, gawes en roeping ten volle kan uitleef nie.

Om vrou te wees beteken immers iets groters, iets meer verrassend anders by God as wat die samelewing ons wil laat glo.

Vrou - jy is geskep na die beeld van God. Jy is meer as genoeg. Jy kan jou roeping met waagmoed, dapperheid, deernis en wysheid uitleef en God vertrou dat dit wat vir jou bestem is jou sal bereik. Nie een van ons is perfek nie en die front van volmaaktheid hoef jy nie voor te hou nie. Die wêreld met al sy seer raak soms baie oorweldigend, en dié seer het ook nie die oorhand die Een wat liefde en genade beliggaam het nie.

Jy KAN met vrymoedigheid jou drome nastreef.

Jy MAG na jouself omsien.

Jy HET keuses van jou eie.

Jy IS veilig in die hand van jou Skepper.

508 views0 comments

Recent Posts

See All