top of page

Hou Op Strewe


Ons lewe in ‘n wêreld waar ons altyd aan die strewe is. Om beter te wees. Meer te doen. Verder te gaan. Hoër te klim. Maar tog voel dit of ek dit nooit regtig maak nie. Hoe is dit dat hoe meer jy probeer, jy net nóg meer na ‘n mislukking voel?


In ons alledaagse doen en late is daar soveel rolle wat ons moet vervul. Die skaars dae wat jy wel kan klassifiseer as goeie dae is ‘n prestasie op sy eie, nie eens te praat van meer doen as wat beplan was nie.


Elke dag het net vier-en-twintig uur. Ons almal is dieselfde hoeveelheid ure per dag gegee, ongeag wie jy is of wat jou doel in die lewe is.


God het voor jou geboorte al ‘n plan met jou lewe gehad en Hy het jou ook al die nodige tyd gegee om hierdie plan te laat verwesenlik. Nie te veel nie, maar beslis ook nie te min nie. Maar gebruik ons hierdie tyd ten volle?


Dis maklik om vas te stel wanneer ons tyd mors. Sosiale media vir een, kan ure van ons tyd steel. Maar wat as jy al die kopskuif gemaak het om jou tyd ten volle te benut? Jy gryp elke rol met passie aan en streef om die beste te wees. Jy vul elke sekonde om seker te maak jy gee jou alles en meer. Jy is konstant in ‘n wedloop teen tyd. Om jou heel beste weergawe te wees. In elke rol. Elke dag. Net meer, meer, meer…


Tot die dag wat alles begin skeefloop en platval. Skielik vind jy jou strewe na meer bereikings en beter menswees, lei net na meer mislukkings en ‘n emosionele, uitgeputte mensie. En dis gewoonlik dan wanneer jy jouself op ‘n punt vind waar jy energie het vir niks. Gedaan, klaar, moeg.

Moeg gestrewe om by almal se verwagtinge te hou. Moeg gestrewe om iemand te wees wie jy nie eintlik is nie. Moeg om heeltyd meer te bereik, te doen, te hê as jou buurvrou. Moeg vir die kompetisie, die vergelykings en sommer net moeg.


Hoekom sal ons onsself uitput deur heeltyd so te bly leef? Kan dit wees omdat ons net nie werklik besef dat ons eie uniek geskape self met elkeen van ons unieke karaktereienskappe perfek geweef en gevorm, genoeg is nie? Dat jou hele menswees, alles wat jy moet wees en moet bereik, reeds binne jou geplaas is nie. Van geboorte af.


Deur te strewe probeer jy buite jou sirkel van invloed beweeg. Jy is op ‘n sekere plek, op ‘n sekere tyd in jou lewe presies nou geplaas waar jy nodig is. Waar God wil hê jy moet iets doen. Omdat Hy weet wat als binne jou skuil en waarnatoe jy in staat is. Maar omdat ons so gefokus is op meer en meer doen, mis ons die net genoeg doen wat God van jou op hierdie stadium gesoek het.


Die tyd wat vir jou uitgesit is, is net genoeg vir jou om die taak te voltooi wat God vir jou gekies het. Daar is nie tyd om meer te doen as wat nodig is net omdat jy iemand anders wil beïndruk nie. Of om te probeer wys jy is beter en dan sien mense nooit wie jy werklik is nie. Daar is ook nie tyd om te vergelyk nie. Daai mense leef hul lewe en die plan vir hul lewe, terwyl jou oomblikke een vir een verdwyn terwyl jy gefokus is op ander.


Gooi vandag al die verwagtinge en ideale van jou skouers af. En begin net wees. Daar waar jy nou jouself bevind. Wees net jou ware self. Vergeet van die mense om jou wat verder vorentoe beweeg as jy of hoër klim. Waar jy nou is, is nie ‘n fout nie. Wees net betrokke in die rol wat jy nou moet vervul en leef hom ten volle uit. Doen net wat nou nodig is. Neem net die volgende stap – hoe klein ookal. Maar hou net op met strewe om groter en meer te doen as wat van jou verwag word. Dit baat niemand. Inteendel mis jy die wonderlike geleenthede wat jou pad kom.


Weet dat jy genoeg is, Mooistevrou. Jy hoef aan niemand iets te bewys of te verduidelik nie. God het jou reeds as Sy dogter gekies en jou doodgewone, alledaagse, eenvoudige mens wat jy jouself dalk as sien, kyk God na jou en sien ‘n dapper, kosbare, wêreld-veranderde siel. Nou gaan wees sy.

127 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page