top of page

HOU OP WAG VIR VRYDAG

“Hierdie is net die lewe reg? En dit sal verby wees voordat jy dit weet”.

So lui die woorde van twee jong mans (ek skat hier in hulle latere twintigs) wat ek in ‘n koffiewinkel gehoor praat het. Ek wil amper op spring en iets sê, maar ek raak weg in my eie gedagtes en hulle woorde los half ‘n ongemaklikheid in

my gees. My hart is ook vir ‘n oomblik seer. Kyk hulle dan als mis? Is hierdie lewe regtig net iets om verby te kry?


My antwoord is NEE en hierdie bloginskrywing is wel geïnspireerd deur die twee jong mans, maar dis geskryf vir JOU wat so besig geraak het met lewe dat jy vergeet het om die mooi raak te sien, vir jou by wie elke dag doelloos verbygaan en ook vir jou wat altyd wag vir Vrydag. Soos ek hierdie skryf probeer ek hard dat dit nie een van daai clichè skryfstukke is wat jou vertel hoe kort die lewe is en hoe ons mekaar en die

klein dingetjies meer moet waardeer nie, maar ek faal, want ek besef dit is en ek verstaan vir die eerste keer hoekom daar so baie van hierdie tipe artikels al gepubliseer is. Dis mense, nes ek, voor my, wat die waarde van die “klein dingetjies” begin verstaan het en desperaat probeer om ons wat dit so miskyk te probeer oortuig of tenminste te herinner. Herinner aan hoe tyd geleen is en hoe alles wat ons het net uit God se hand ‘n seën is. As iemand sê die lewe is so eenvoudig klim dit onder my vel in, want wat is eenvoudig aan ‘n baba se eerste asemteel en jou oupa wat byna 90 jaar hierdie aarde ‘n beter plek kom maak het se laaste een? Wat is eenvoudig aan die man wat 44 jaar by die poskantoor gewerk het se laaste dag; die man met die “onbelangrike” werk wat seker gemaak het dat al die liefdesbriewe oorlog toe gestuur is om vir daai manne anderkant die grens ‘n lig te wees?


Wat is eenvoudig aan die reis van ‘n pasgetroude paartjie wat die lewe saam begin in ‘n klein woonstelletjie wat hulle skaars kan bekostig? Dis kompleks hoe mooi hierdie reis is en hoe twee mense net mekaar kan kies. Ek wil klem plaas op hoe die eenvoudige dinge in die lewe eintlik die mees kompleks is en hoe ons meer aandag aan detail moet gee. Met die gedagte dan kyk ek na hierdie movies soos Five feet apart en The fault in our stars waar hulle hierdie amazing goed vir mekaar doen, maar waar hulle amper dood gaan, waar iemand altyd dood gaan. En ek wonder… Hoekom eers dan? Hoekom wag tot iemand opgevreet word deur die kanker of aan die lewe gehou word deur ‘n suurstofmasjien? Doen dit nou! Vat haar vanaand om

liggies te gaan kyk en vertel hom more oggend by ontbyt hoe baie jy daarvan hou as hy sy R’e so rol en sukkel om die woord “rêrig” te sê. Ons wag vir die dood om ons te dreig voor ons begin lewe; voor ons vir lewe wil betekenis gee. Maar die waarheid is dat lewe net ‘n woord is wat sy beste probeer om wat ons daagliks deur maak te beskryf, maar faal, elke dag faal en sal bly faal, want lewe is te diep vir woorde en die beste wat jy kan doen is om dit net te leef. Te leef deur meer aandag te gee aan detail en op te hou om als as net nog ‘n gebeurtenis of net nog ‘n aandete saam met jou

man te klassifiseer.


En om te begin leef beteken dan ook om jouself te leer om die mooi in hierdie allerdaagse dingetjies wat ons wys hoe ongelooflik hierdie bestaan van ons is raak te sien. Dis om jouself te oortuig dat elke koppie koffie die beste is wat jy nog ooit gehad het, dis om seer te hê, maar te weet jy genees op dieselfde tyd. Om te leef is om nie anders te kan as om die beste van elke dag te maak nie, want dieselfde

Here wat die magtige oseaan en die nag se stilte onder die sterre gemaak het, het jou ook gemaak en dis genoeg motivering; genoeg motivering om regtig te leef, want jy weet daar is meer toegeskryf aan hierdie bestaan van ons as om net te leef vir Vrydag, shopping sprees en promosies.


In die fliek The Vow, stel Channing Tatum dit so mooi, “We are the sum total of all the moments we’ve ever experienced and all the people we’ve ever known. And it’s these moments that become our history like our own personal greatest hits of memories that replays in our minds over and over again.”


En dis elke dag, daai herrineringe is nie net jou Vrydae, jou troudag of jou verjaarsdae nie, dis elke dag. Elke dag dra by tot hierdie hele muur van geskiedenis. Hierdie muur vol van jou en dis jou lewe. So hou op wag vir Vrydag, want lewe is NOU. Nou is hierdie oomblik en hierdie oomblik is jou lewe.


Jani Marais

782 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page