Hou styf vas aan God se beloftes in die middel van jou storm. Én volhard.
Deur Susan Westraadt
Het dit al ooit vir jou gevoel asof die storms gelyktydig om jou losbars? Asof jou lewe in ‘n oogwink buite beheer raak? Jy is nog besig om die een probleem te hanteer, dan klop ‘n vars een aan jou deur. Nes jy die een vuur geblus het, brand ‘n handvol nuwes los. En voor jy dit weet staan jy verslae en toekyk hoe alles in mekaar val. Soms op alle gebiede.
Dalk ervaar jy die seer om ‘n ouer te versorg wie se liggaam en verstand voor jou wegkwyn. Dalk sit jy langs jou kind se sterfbed sonder enige hoop. Dalk het jy 'n diagnose ontvang wat jou siel tot stilstand geruk het. Dalk leef jy met spyt en wens jy dat jy vir jouself anders gekies het. Dalk wroeg jy met bitterheid omdat die persoon wie jy gedink het jy die res van jou lewe mee sou spandeer, jou verwerp en verniel het. Dalk bereik jou minderwaardigheidsgevoel ‘n nuwe laagte omdat die rekeninge wat betaal moet word, alweer sal moet oorstaan. Dalk kry jy nie die werk wat jy so desperaat nodig het nie. Dalk gee al die wit ameublement in die huis gelyktydig die gees en kom die versekering nie tafel toe nie. Dalk faal die hoofstroom jou kind of loop hulle deur onder ‘n onderwyser se afbrekende kritiek. Dalk worstel jy met ‘n vriendskap wat jou tot op die been seermaak en onherstelbaar is. Dalk het jy jou huis of kar of iets van sentimentele waarde verloor. Dalk dra jy swaar aan die gevolge van een verkeerde besluit of oordeelsfout. Dalk is jy die klankbord vir almal om jou wat hierdie dinge eerstehands beleef.
Ek mag dalk nie weet presies waar jy jouself vandag bevind nie, maar ons almal was al voorheen op ons eie manier dáár. Hoe moeilik dit ookal is, moenie dat jou omstandighede jou verswelg nie. Soms raak ons so vasgevang in ons onmiddellike omstandighede dat ons vergeet wie ons God is.
As dit enigsins moontlik is, wil ek hê jy moet jouself ‘n paar tree en vir ‘n paar oomblikke van jou situasie distansieer. Gaan hierdie “probleem” of uitdaging jou oor ‘n maand steeds wakker hou? Wat kan jy prakties hieraan doen? Wil jy oor ‘n jaar van nou af steeds daardie oorweldigende hartseer met jou saamdra? Wat kan jy doen om gesond te word? Hoekom gee jy nie dit wat jy nie kan verander volkome oor aan God nie?
Ons moet die onderskeidsvermoë hê om te identifiseer watter omstandighede die normale verloop van die lewe is. Daar is niks wat jy kon doen om dit te verdien nie en daar is niks wat jy kon doen om dit te verhoed nie. Jesaja 41:10: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.” Die Here is daar. In die stilte. Saam met jou. By jou. Vir jou. Ons almal is slagoffers van ander se besluite. Ons almal is verganklik en die aarde is slegs ons tydelike woning. Ek weet dit is seer. Volhard.
Ons moet identifiseer watter omstandighede daar is om ons te help vorm, te beskerm en help voorberei vir dit wat God vir ons beplan. Psalm 25:12 bevestig dit vir ons: “As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies.” Soms lê daar lesse verskuil in ons omstandighede en moet ons daaruit leer, anders sal soortgelyke omstandighede herhaaldelik opduik. Spreuke sê: “Hou jou ore oop vir wysheid, span jou in om te verstaan.” Jou stryd is óf voorbereiding vir die sukses in daardie areas waarvoor jy gebid het óf beskerminging teen verkeerde besluite en die gevolge daarvan. Volhard.
En laastens moet identifiseer watter omstandighede veroorsaak word deur geestelike aanslae. (Iets waaroor daar nie dikwels gepraat word nie.) Die duiwel sal jou op enige wyse en in enige area aanval, met die uitsluitlike doel om jou besig te hou en jou geluk te steel. Hy val jou nie aan omdat jy swak is nie, hy val jou aan omdat jy ‘n doel het en ‘n verskil kan maak. Net soos wat God weet wat jou potensiaal is en waartoe jy instaat is, so weet die duiwel dit ook. Hierdie aanslae kom gewoonlik voor of tydens ‘n deurbraak wat vir jou of deur jou bewerkstellig moet word. Hierdie aanslae kom hard, aanhoudend en onverwags. Hoe moeilik jou situasie ook mag wees, volhard. Die uitdaging wat voor jou lê, is ‘n indikasie van die krag wat in jou lê – Volhard. God het nie in Jesaja 54:17 gesê die wapen gaan nie vorm nie, Hy het gesê die wapen sal nie slaag nie – volhard.
Ons moet onthou Wie ons geskep het. Wie vir ons intree en veg. Wie die Regverdige Regter is. Wie vir ons lief is. Wie groter is as die probleme van hierdie wêreld. Wie die Herbouer van alles wat stukkend is. Wie ons Verlosser is. Wie ons Goeie Herder is. Wie ons Prins van Vrede is. Wie die Draer van ons laste is. Wie wonderwerke doen en beloftes nakom. Wie ons Weg, Waarheid en Ewige Lewe is. Ons moet onthou wie ons Troos is. Wie ons Vreugde en ons Vryheid is. Wie ons Groot Geneesheer is.
Ek mag dalk nie weet presies wat die aard van jou omstandighede is of hoe jou uitkoms gaan lyk nie, maar ek weet waarheen jy oppad is. Ek weet dat jy dit gaan maak. Dat jy gaan oorleef en dat jy gaan wen. Dat jy as oorwinnaar uit híérdie stryd en elke een wat nog voorlê gaan tree. Hou styf vas aan God se beloftes in die middel van jou storm. Én volhard.