top of page

Huweliks-seisoene

Kyk, as ek verby ‘n paartjie loop wat hande vashou, ‘n druk of ‘n soen deel, glimlag ek sommer ook! Daar is regtig vir my niks mooier as opregte liefde nie.

Dit was vanaf 1-7 September Huweliksweek. Ek is nie seker hoeveel van ons bewus is dat so iets gevier word nie? Maar vir my moet dit elke dag gevier word, want ñ huwelik is iets so broos, iets so mooi en kosbaar. Iets wat elke dag opgepas, EN gevier moet word!

Deur te sien hoe ‘n paartjie loop en hande vashou, lyk dit só mooi van buite en ek besef dat huwelike ook hul eie seisoene beleef.


Soms veg ons teen die winter in ons huwelike, watter emosies word in die winter ervaar? Seerkry, woede, teleurstelling, eensaamheid en verwerping. Watter gesindhede heers gedurende ’n winterhuwelik? Negatiwiteit. In ‘n wintershuwelik soek paartjies meer raad.


“Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.”

‭‭SPREUKE‬ ‭27:9‬ ‭AFR83‬‬

’n Lentehuwelik is gevul met hoop, afwagting, optimisme, dankbaarheid, liefde en vertroue. Hierdie klink sommer lekker, opwindend!! Jy mag dalk nou aan julle wittebrood dink, ‘n besonderse “date-night” wat vir jou baie beteken het. Ek wil nou vir julle sê dat julle oor en oor weer lente kan ervaar. Daagliks! ‘n Gesonde huwelik sal deur die jare verskeie lentetye hê.


“Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.”

‭‭2 KORINTIËRS‬ ‭9:6‬ ‭AFR83‬‬

Ontspannende somers huwelike… In ’n somerhuwelik is daar gevoelens van geluk, tevredenheid, sukses en ’n innige verbintenis. Daar is ’n diepe gevoel van vertroue en ’n ernstige voorneme om te groei. ‘n Gevoel van nabyheid word so sterk gevoel, ‘n dieper band word gevorm.

‘n Herfshuwelik.. die woord sê dit sommer klaar. So mooi soos wat dit lyk as die blare van kleur verander en af val, is daar iewers ‘n gevoel van hartseer, vrees, eensaamheid… Dit is wanneer die wêreld druk en dis asof alles sommer teen alles wil werk.

“Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons. Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.”

‭‭PSALMS‬ ‭33:20-22‬ ‭AFR83‬‬


Maak nie saak in watse seisoen jou huwelik tans beleef nie, die Bybel verseker ons dat daar altyd hoop is. ‘n Huwelik is om mekaar konstant vir God te gee, Sy woord oor jou man of vrou uit te spreek en onophoudelik vir mekaar te bid. Soos wat ons nou begin lente beleef, is dit net weereens ‘n belofte van ons Hemelse Vader dat Sy genade elke dag vir ons nuut is.

Onthou dat jy steeds in ELKE seisoen van jou huwelik ‘n nuwe saadjie saai wat ge-oes kan word. Al is dit ‘n ekstra stywe drukkie wanneer dit moeilik is, ‘n boodskap van liefde of ‘n glimlag, in jou huwelik maak dit ‘n verskil.


324 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page