top of page

HY HOU JOU VAS

deur Noelene Bester


“Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.”

‭‭JESAJA‬ ‭41:13‬ ‭AFR83‬‬


Daar is iets wat my hart warm laat klop as ek ‘n man en vrou sien hande vashou. En wat vir my nog mooier is, is wanneer twee bejaarde mense hande vashou. Om mekaar na jare steeds só te koester en dit aan die wêreld te wys.


Hande vashou is ‘n tiepe intiemheid, dis ‘n nabyheid aan ‘n persoon met wie jy ‘n kosbare band deel. Dis meer as vriendskap, dis iets diep wat net hierdie twee mense kan verstaan en met mekaar deel. Dis opregte liefde.

Baie keer na ‘n lang dag sal ek net stilletjies my man se hand vashou en ‘n rustigheid spoel oor my. Hy is dalk nie heeltemal bewus van presies wat in my kop maal of hoe my hart voel nie, maar in daardie stil oomblik van net hande vashou, is dit meer as genoeg. Dit bied vir my veiligheid, dit gee sekerheid en ek besef ek is veilig.

Soos wat jy hierdie band met jou geliefde koester, wanneer jy jou geliefde se hand net kan styf druk, dit herinner jou dat jy nie alleen is nie, en die wete dat daardie persoon daar is vir jou, maak nie saak wat nie, gee mens die moed en krag om nog ‘n dag aan te vat.

Maar hoeveel moed en krag sal dit nie gee as jy ook so aan jou Hemelse Vader se hand vashou nie?

Net só wil ons Hemelse Vader ons hande vat en lei, Hy se immers dat Hy nooit ons hand sal los nie, dat ons nie een oomblik hoef bang te wees nie. Reik uit na Sy hand in hierdie oomblik en hou vas, Mooistevrou. Hy hou jou vas met die grootste deernis en liefde. Hierdie band kan geen aardse liefde vervul nie.


Jou omstandighede lyk dalk onseker, jou hart hoop vir sekere dinge, of jou lewe is bietjie deurmekaar - wees verseker dat Hy met jou is. Solank jou hand veilig in Syne is, hoef jy vir niks te vrees nie.

Mag die Here elke tree saam jou stap, mag jy jouself vind in Hom, Sy lig uitleef en ander se hande vat en na Hom toe lei.

569 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page