Hy Hou Ons Vas
deur Bianca Brits
Dis 'n Donderdagaand. My man is kerk toe vir 'band' oefening en ek is alleen met ons seuntjie. Op en af stap ek in die sitkamer met hom in my arms en probeer hom aan die slaap sus. In die agtergrond speel Maverick City se klanke en ek gesels met die Here. My hart voel bietjie swaar. In die tyd waar ons onsself tans vind kan jy maar planne maak, idees in jou kop hê van hoe dinge moet gebeur en hoop vir die beste, maar die onsekerheid en onstabiliteit huiwer heeltyd in die agterkant van my kop. Hoeveel dinge is nie al hierdie jaar opgemors deur 'n ongenooide virus nie? Hoeveel planne moes verander word? Hoeveel keer moes ek tevrede wees met 'n idee wat nie heeltemal die prentjie in my kop was nie? En met Kersfees wat om die draai lê, is ek versigtig opgewonde, maar my gebede bly konstant. Asseblief, Here, moenie dat Kersfees opgemors raak nie. Ek het baie vrae en verstaan nie hoekom sommige dinge uitgedraai het soos dit toe wel het nie, maar tussen die woorde van die aanbiddingsliedere probeer ek oorgee. Elke bekommernis, elke onsekerheid, elke stukkie vrees wat wil opduik. Gee oor aan die Een wat in beheer is van als. Oor aan die Een vir Wie alles moontlik is. Sy koppie rus teen my bors en hy haal diep asem. Salig en vol vrede lê hy in my arms. Sorgloos oor wat in die wêreld aangaan. Tevrede net om in my arms te rus. En soos ek daar staan, my arms om my seuntjie, sien ek die Here se arms om my, Sy dogter. En ek besef dat Hy hou mý vas. In die warboel van die wêreld se chaos, tussen al die onsekerhede, hou die Almagtige God se arms my staande. Ek het niks om te vrees of oor bekommerd te wees nie. Hy is reeds daar. Hy weet wat môre gebeur en Hy het reeds voorsien. My hart hoef nie swaar te voel nie, want daar waar Hy is, is daar vrede. 'n Vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek kan rustig wees want Hy sal sorg. In Sy arms is ek veilig. "Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red." Jesaja 41:10 Waar jy jouself ookal nou bevind, weet dat God met jou is. Weet dat Hy God is en dat niks vir Hom onmoontlik is nie. Hy sal ons krag gee om deur te druk. Hy sal ons red. Hy hou ons vas.