HY VOORSIEN. Elke dag. Sonder ophou.
“deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.”
KLAAGLIEDERE 3:22-23 AFR83
November. Soos hoe, het ek my oë geknip en die jaar is so te sê verby? Die laaste 2 weke wat verby is, het vir my soos 2 maande gevoel. Een of ander gogga het ons huis besoek en ons word net nie gesond nie. My lyf voel skoon moeg, my voete sleep uit die bed uit. Ek besef, ek staan tog steeds elke dag op en doen wat van my verwag word, al vat dit bietjie langer en my gemoed is nie waar dit moet wees nie.
Deur alles, dank ek ons Hemelse Vader dat ek steeds kan opstaan want Sy genade is vir my genoeg. Meer as genoeg. Maak nie saak watter situasie ons in die oë staar nie, Hy is reeds daar en Hy weet alreeds presies wat ons nodig het.
Dis daardie tyd van die jaar wat ons almal ‘n blaas kans nodig het, bietjie afsluit en ontspan saam familie en vriende, maar ons het nog so paar dinge om eers af te handel en dinge om te doen. Dit voel of ons bagasie ekstra swaarder raak hoe nader die kalender aan Desember kruip.
Al sleep jou voete die laaste dae deur tot jy rus, al wens jy jy kan NOU rus… Mooistevrou, Sy genade dra jou al heel jaar deur, en Hy gaan jou dra tot die einde ook.
God se genade is guns in ons lewe, sonder dat ons dit verdien. Hierdie genade is nie eksklusief beskikbaar nie, dit is vir elkeen beskikbaar wat vir God om hulp vra, en GLO dat Hy sal en kan. Ons kies nie hierdie swaar bagasie, moeilike dae of omstandighede nie. Maar hierdeur bou God ons karakter. Gaan met vrymoedigheid na die Here, en vra.
Soos wat God se genade ons nie red of uit ons ongewenste omstandighede ruk nie, verstek Sy genade ons eerder om daar deur te kom. En op die regte tyd, op Sy tyd, kom Sy hand deur.
Dit laat ons besef, en ons kan getuig, dat;
GOD SE GENADE = SY KRAG IN AKSIE.
Dis nie ons pogings nie, dis Hy.