Identiteit oor Onsekerheid
Een van die groot vyande in ons lewe vandag en die dief van ons vreugde, is ons onsekerhede. Daardie stemmetjie wat so onskuldig insluip en fluister, 'jy is nie goedgenoeg nie', 'jy pas nêrens in nie', 'jy is nie belangrik nie', 'niemand sien jou raak nie'.
Meeste van ons sukkel in 'n mate met onsekerhede en dis nie noodwendig altyd 'n slegte ding nie. Soms hou daardie bietjie twyfel ons nederig en help dat trots nie in ons harte groei nie. Maar dis wanneer jou onsekerhede jou lewe só affekteer dat jy jouself onttrek, jou vreugde verloor, jou doel mis, dat dit 'n probleem begin te raak.
In vandag se tyd is daar soveel dinge om oor onseker te voel. Sosiale media veroorsaak dat jy jouself en jou lewe konstant met ander vergelyk. Jy wens jy was mooier, slimmer, maerder, meer suksesvol. Ons sê mense inspireer ons, maar as ons eerlik sal wees, is daar tog 'n mate van jaloesie in die 'wow' ingevou. As jy maar net bietjie meer soos sy kon wees.
Ons wil belangrik voel en weet dat ons saak maak en iewers inpas. En enige situasie wat hierdie gevoelens dreig, sit daai ou, bekende stemmetjie weer op herhaling. Jy besef die gevoelens is ongeldig en onrealisties, maar jy kry dit net nie afgeskud nie.
Onsekerhede spruit daaruit dat jy nie jou ware identiteit besef of uitleef nie. Daar is géén rede om met enige van hierdie twyfels en gevoelens saam te leef nie. Jy het nodig om die stem van onsekerheid te vervang met God se stem van waarheid. Daarin lê jou vryheid en 'n lewe van oorvloed.
Behalwe vir skuldgevoelens, hartseer, bitterheid en angstigheid, dra onsekerhede niks by tot jou lewe nie. Inteendeel verloor jy. Jy mis uit op sterker verhoudings, om jou ware self aan die wêreld te wys, om ten volle te leef. Als omdat jy jouself konstant vergelyk, twyfel dat jy geliefd is en nie jou waarde besef nie.
Jou manier van na die wêreld kyk, hoe jy dink en jouself sien moet verander. En dit doen jy deur God se Woord toe te laat om jou lewe te kom vul. Wat Hy sê moet die absolute waarheid in jou lewe word. Weet wat God sê oor jou. Jy het nie nodog om jouself met enigiemand te vergelyk nie. Jy is uniek en vir 'n doel geskape. Jy het nie nodig om ooit alleen of waardeloos te voel nie. God het jou uitverkies as Sy kind en vir Hom is jou waarde onmeetbaar. Laat hierdie die maatstaf word teen wat jy jou waarde meet. Vir God is jy kosbaar, spesiaal en Hy het jou lief. Hierdie is jou identiteit