Is tyd jou vriend of vyand?
Ek het nooit besef hoe vinnig t•y•d verby gaan vandat ek ñ Mamma geword het nie. Ons kosbare meisiekind het Februarie ñ volle twee jaar oud geword. Waar is die tyd heen?
Die eerste paar maande was wild! Ek glo elke mamma kan hiermee saam stem. Dae is lank en die nagte nóg langer, dit is ‘n herhaalde proses van voed, winde uit vryf, doek ruil en slaap. Nog voor jy aan ‘n warm koppie koffie kon dink of ‘n vinnige peuselhappie, begin dit weer van voor af. En net so, in hierdie besige tyd, stap die tyd aan.
Van die begin af het ek elke oomblik net ingeneem en gekoester, more was nog ñ dag vir huistakies as dit nie daardie dag gedoen kan word nie.
Wens jy ook jy kon net vir so klein rukkie die tyd stop, of selfs terug draai?
Tyd behels soveel dinge - tyd saam jou geliefdes, tyd te maak om iets te doen, die regte tyd dat iets moet gebeur in jou lewe.
Soveel gebeur elke dag en ek besef net weer ons God se Grootheid. Hierdie tyd is net aan ons geleen.
My hart loop oor van dankbaarheid, maar ek staan ook verstom in nederigheid teenoor die Here wat weereens gewys het hoé absoluut in beheer Hy van elke situasie is. Hoe GROOT Hy dink teenoor ons nietige denkwyse, en hoe dinge sommer net in plek val sodra mens bereid is om gehoorsaam te wees en net te volg waar Hy jou lei.
Die dag wanneer ons ons totale menswees aan Hom oorgee, toelaat dat Hy die leisels van ons lewe, die besluite en die rigting oorneem, staan mens verstom oor die uitkoms wat Hy gee.
En die wonderlikste van alles is, dat die Here gewone mense, soos ek en jy, gebruik om dinge te laat gebeur.
Die jaar snel ook verby soos elke liewe vorige jaar. Soveel dinge moet nog gedoen word, en gebeur, voor dit weer Kersfees is.
Ek het vinnig tot die besef gekom, die tyd is in nie in my hande nie, maar in ons liefdevolle God s’n. Hiermee gee ons Vader aan ons die wysheid hoe om ons tyd te benut.
Maak nie saak in watse ‘tyd’ jy jouself bevind nie, die Here versterk ons elke dag met nuwe moed en krag. As Hy die Heer en Meester van jou lewe is, sal jy met ander oë na die mense om jou kyk en na die lewe. Net so mag jy dan die kleiner dingetjies raak sien, meer waardeer en God se seën so duidelik beleef.
Waardeer elke dag, elke geleentheid.