Jou Gebede Sal Nie Onbeantwoord Gelaat Word Nie
Al ooit gevoel of jou gebede net nie verby die plafon gaan nie, asof dit nie gehoor word nie?
Ons bid daagliks vir leiding, dat die Here ons sal wys of op ‘n manier net ‘n teken sal gee dat ons op die regte pad is. Ons bid dat ons die regte besluite sal neem, die beste ma vir ons kinders sal wees, ‘n goeie vrou vir jou man, dat jy jou werk presies sal doen soos verwag word, dalk aangestel word by ‘n ander maatskappy. Maar, soms faal ons. Ons faal ten opsigte van twyfel, want ons wil God se teken op ons manier en tyd sien.
Ek kan getuig van ‘n paar maande wat ek gedurig en aanhoudend gebid het dat die Here my net een teken sal gee dat ek op die regte pad is, ek het gebid vir deurbraak in ñ paar aspekte van my persoonlike lewe.
Dit het dae, weke en maande geword en eventueel het die Here vir my ‘n deur oop gemaak. Ek het paar keer gedink my gebed verdwaal. Net as ek dink “hier is dit nou” het ek teleurstelling beleef, keer op keer gevra hoekom, maar steeds my kop opgetel en aan gegaan.. Ek het keer op keer skrif gekry dat ek moet wag. En só het ek gewag op God se tyd…
Ons lewens is elke dag ‘n gejaag na iets beters. Deur die gejaag beleef ons teleurstelling, opgewondenheid, seer, vrede, vreugde… Deur alles voel ons alleen, asof God van ons vergeet het.
Deur hierdie wag periodes groei ons, en ons sien dit eers raak wanneer ons terug kyk. As ek reflekteer op my wag periodes, kan ek sien hoe van my gebede beantwoord is wat op daardie tyd vir my minder belangrik was omdat my hoop op iets groters was.
Om te wag, beteken ook om te groei, om meer van jouself te leer en God se stem duideliker te kan hoor. Dit wat jy dink jy nou nodig het is dalk nie vir God so belangrik soos iets anders wat Hy weet jy nou nodig het nie. Die belangrikste is om altyd aan Hom vas te hou, jou hoop in Hom te anker maak nie saak hoe moeilik dit mag wees nie.
“Sometimes our toughest hardships can lead to our greatest purpose. “
~Lysa Terkeurst.
Jy mag dalk nou in jou wag-seisoen wees, en wees verseker iets bitter moois gaan hieruit blom.