Jou Huwelik is ñ Voedingsbron
Deur Noelene Bester
Jou huwelik is om God se hart aan geliefdes asook die wêreld te repliseer.
ñ Huwelik is vir my die mees kosbaarste band wat tussen twee geliefdes bestaan. Dit is soos ñ mosaïkstuk, elke stukkie pas op die ou einde saam in mekaar. Dit verg daaglikse werk om hierdie ñ meesterstuk te hou! Hierdie mosaïkstuk bevat duisende oomblikke van jul lewensreis as man en vrou.
“Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.”
PREDIKER 4:12 AFR83
Die huwelik is ‘n gawe van ‘n liefdevolle God. Vandag word die huwelik as tydelik beskou. Mense trou omdat hulle dink dit hulle behoeftes sal vervul en verwag om daaruit te kom sodra dit moeilik lyk. Onthou eers die illustrasie wat in die Bybel gebruik word vir ‘n band soos die huwelik - ‘n tou. Dit is gemaak om te hou, al die wrywing te deurstaan, om nooit te verslyt of uit te rafel nie, nie eers in die kwaaiste storm nie. Net só is die huwelik bedoel om blywend te wees. Jesus het ook gesê “wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” Matteus 19:6.
As jy op trou staan of reeds getroud is - mag jy altyd hierdie beskouing van die huwelik hê. Mag hierdie beskouing behou word. In ‘n huwelik moet albei daarna streef om te fokus op die goeie eienakappe en dade van hulle maat, die huwelik sal dan ‘n bron van vreugde en verkwikking wees.
Jou huwelik word raak gesien, sonder dat jy besef. Dit is daagliks die voorbeeld wat aan jou kinders gestel word. Dis hier waar jou kinders leer wat opregte liefde is, en dit wat hulle by jou leer gaan eendag reflekteer op dit wat hulle gesien het. Soos die jare aanstap, word die huwelik ‘n groter seën.
‘n Gelukkige huwelik - waar ‘n vrou diep respek het vir haar man, die man sy vrou liefhet en albei saam werk om die uitvoering van God se wil in alles eerste te stel. Alles is nie maklik nie, maar elke dag saam jou maat is beslis die moeite werd - van die rofste, seerste klippe saam kou tot die oomblikke waar julle saam kan lag tot die trane loop.
Koester jou maat, doen daardie “date night” een keer ‘n maand. Maar, belangrikste van alles - bly op jou knieë vir jou huwelik.