Jy Dra Reeds 'n Kroon
Ek kyk onlangs die Mej Suid-Afrika wedstryd op die televisie en verwonder my aan die mooi dames wat deelneem. Elkeen lyk so perfek. Nie 'n haar uit sy plek, spierwit glimlagte en modellywe. (Net so tussen my en jou, maar daar was 'n tyd toe ek jonger was wat ek gedroom het om Mej SA te wees, maar 'that ship has sailed!' Nou is ek oud en getroud!).
Die finale vraag word aan die top 5 gevra en elkeen antwoord met die selfvertroue van een wat kan wen. Uiteindelik word die nuwe Mej SA se naam uitgeroep en haar hele lewe verander in 'n oogwink soos daardie kroon op haar kop geplaas word. Wie sy ookal net 'n paar sekondes tevore was, is nou iets van die verlede. Sy dra nou 'n nuwe titel vir die res van haar lewe. Sy ís nou Mej SA. Hoe sy van hier af loop, praat en omgaan met mense word vanuit daardie perspektief gedoen. Dit het my laat dink aan die Britse Koninklikes. Ek het so 'n effense fasinasie met hulle (dit dalk waarom ek in die Brits familie getrou het...haha). Kate Middleton is vir my vreeslik mooi en haar hele wese straal van elegansie, grasie en adelikheid. Die ironie is egter dat sy geensins in 'n koninklike familie gebore is nie. Inteendeel was daar groot opspraak voor haar en Prins William se troue oor foto's van haar in 'n deurskynende rok waar sy aan 'n modevertoning deelgeneem het toe sy nog op universiteit was, en ook waar sy in 'n knap uitrusting gerolskaats het tydens 'n liefdadigheidsfunksie. Glad nie aanvaarbare gedrag vir 'n prinses nie. Maar tog as jy vandag na haar kyk is sy die toonbeeld van een. Die dag toe sy Prins William aanvaar as haar toekomstige man het haar hele lewe verander en moes sy begin optree soos een waardig as die prins,en toekomstige koning, se vrou. Sy het nie anders as die wêreld opgetree sodat sy 'n prinses kon word nie. Sy het 'n prinses geword en sodoende nuut begin optree. Hoeveel maal dink ons nie ons lewe moet eers perfek en agtermekaar wees voor ons 'n verhouding met die Here kan hê nie? Jy glo jy moet éérs reg op tree en praat voor jy in God se Koninkryk toegelaat kan word, waar dit eintlik so eenvoudig is. Die dag toe jy Jesus as jou Verlosser aanvaar het, het jy 'n kind van God geword. Geen Mej SA of Kate Middleton is gebore met perfekte prinses-gedrag nie. Hulle moes leer en oefen om by hulle nuwe titels te pas. Hulle is heeltyd bewus van die kroon op hulle kop en dit maak dat hulle anders wíl en móét optree. Jou Pa is die Koning van die heelal en jy Sy kind. 'n Koninklike. Jy dra reeds 'n kroon. Nou moet jy net leer om volgens jou nuwe status te leef.
Jy het nie nodig om terug gehou te word deur jou verlede of te voel dat jy nie goedgenoeg of perfek is nie. God het jóú uitverkies. Hy het jou gekroon as Sy kind. Jy kan met selfvertroue regop staan, jou skouers terug en jou kop omhoog. Jy kan met grasie praat, in liefde optree en met vrede te leef. Ongeag wat dalk vir jou voorlê, stap elke situasie in met die wete dat daar 'n kroon op jou kop is. Jy is 'n koningskind. "Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig." (1 Petrus 2:9)