Jy is genoeg
Deur Chantelle Coetzee
Het jy al ooit gevoel jy is nie goed genoeg vir iemand nie ?
Jy gee jou alles een meer vir ’n persoon maar hulle skiet jou af of maak jou seer. Dit voel asof jy nie kan asem kry nie, jy verdrink in die pyn en al wat deur jou gedagtes gaan is hoekom? Wat het ek verkeerd gedoen? Hoekom is ek nie goed genoeg nie ?
Daar is ‘n paar goed wat ek geleer het in die lewe. Jy kan niemand forseer om lief te wees vir jou nie en jy kan ook nie jouself forseer om lief te wees vir iemand nie. Jy kan niemand forseer om jou te kies nie of by jou te bly nie en so ook kan jy nie jouself forseer om by iemand te bly om hulle gelukkig te maak nie. Dit is ’n bitter pil om te sluk maar jou waarde moet nooit gekoppel wees aan die aanvaarding van ’n ander persoon nie.
Ek ervaar dat mense so hard probeer om liefde te vind dat hulle hulsef probeer verander om die ander persoon gelukkig te maak of net goed genoeg te voel. Daar is ‘n groot verskil tussen kompromie en jouself laaste stel. Mense het die wan persepsie dat as hulle die perfekte pasmaat kry, dat hulle gelukkig sal wees. Verkeerd ! Jou pasmaat moet jou aanvul en nie jou geluk bepaal nie. Jy moet eers gelukkig wees op jou eie voor dat jy regtig volkome gelukkig sal kan wees saam met iemand anders. Dit het jare gevat vir my om dit regtig te verstaan maar as jy dit eers verstaan verander jou uitsig. Ek het ook besef dat ware liefde is wanneer jy iemand geluk gun al is jy nie daardie geluk nie.
Ons twyfel in ons geloof as dinge nie uitwerk soos ons dit graag wou hê nie maar wie is regtig daar wanneer ons alleen is? Bid en vra die Here vir die pasmaat wat Hy vir jou bestem het. Wie Hy vir ons ingedagte het en wie ons lief het is nie altyd dieselfde persoon nie. Soms bid ons en vra vir ’n persoon om dieselfde te voel maar as dit nie Sy wil is nie moet ons dit aanvaar met die wete dat Hy weet wie Hy vir ons bestem en wat die beste sal wees vir ons.
Jy moet jouself eers lief hê voor jy lief kan wees vir iemand anders. Bederf jouself. Vind jouself. Geniet tyd op jou eie en doen wat jy wil. Belê in jouself daagliks sodat jy die beste weergawe van jouself kan wees.
Onthou altyd, jy is nie ’n opsie nie. Jy is niemand se tweede beste nie. Jy verdien die beste.