top of page

Jy is God se “Brief” - ♡

Elkeen van ons kom op ‘n punt in ons lewe waar ons die vraag vra wat is my doel, waarmee is ek besig en waste impak het ek nou regtig in ander se lewens? Wel hier praat ek baie duidelik van myself want soveel keer kom ek op ‘n plek in my lewe waar ek voel as ek nie op een of ander wesenlike of drastiese manier iemand se lewe aanraak nie, wat is nou eintlik my doel en impak in dit wat ek daagliks doen?

Ons lewe in ‘n tydperk waar ons omring word met net die beste, net die grootste en net die belangrikste prestasies, vakansies en oomblikke. Ongelukkig is elkeen dan geneig om hulself te vergelyk met die “NET” konsepte of persepsies van ons samelewing. Want as ek nie ‘n drastiese of wesenlike impak op iemand se lewe maak nie, pas ek nie in met dit wat gesien word as “NET” persepsies nie.

Ek het so rukkie terug in ‘n dagstukkie die boodskap van Paulus wat hy in 2 Korinthiërs met ons deel raakgelees. Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense, omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. – 2 Korinthiërs 3: 2- 3 Die oomblik toe ek dit raaklees en ek die boodskap en die krag van ‘n brief herleef het ek besef dat my innerlike worstel oor my impak op ander se lewe so onnodig en selfgesentreerd is. Die gedeelte geskryf deur Paulus het werklik vir my laat besef dat groot oomblikke, wonderwerke en wesenlike veranderinge nie nodig is om ‘n verskil of impak in ander se lewens te hê nie. Dit het my ook laat besef dat nie almal se roeping in die lewe is om op groot en drastiese manière ‘n verskil te maak nie.

Het jy al ooit gedink watter impak jou glimlag op die man langs die pad het wat die koerant verkoop? Of die vrou by die winkel se deur wat jou hande met sanitizer spuit? Het jy al ooit gedink hoe spesiaal die vrou by die betaalpunt sal voel as jy vir haar vra hoe gaan dit en hoe was haar dag? Of het jy al gedink om vir die ontvangsdame ‘n wegneem koffie te bestel as jy in elkgeval ry om vir jouself en jou medewerkers te gaan koop.

Net soos ‘n brief ‘n boodskap dra vanaf een mens na ‘n ander kan ons ‘n boodskap dra op ‘n daaglikse manier. Die boodskap wat vasgevang word in briewe is gewoonlik spesiaal, belangrik en meeste van die tyd probeer ‘n mens om dit wat jy uit ‘n brief op ‘n persoonlike vlak ervaar te beskerm en te bewaar. Net so kan ons God se “brief” wees elke dag. Ons kan Sy brief van hoop, Sy brief van liefde, Sy brief van ondersteuning, Sy brief van aandag gee of selfs net Sy brief van stil staan en luister wees vir ander. Ons kan God se boodskappers wees daagliks en nogsteeds ‘n verskil maak en ‘n impak hê al is dit nie in die raamwerk van die “TE” persepsies nie.

God gebruik vrouens soos ek en jy. Vrouens met foute, vrouens wat nie perfek is nie en vrouens wat al seer en onregverdigheid op soveel manière beleef het. Maar is dit nie juis hoekom Hy ons elke dag as draers van Sy boodskap wil gebruik nie. Jou storie of impak gaan dalk nie op sosiale media verskyn of op die Huisgenoot se voorblad nie maar jy gaan wel een persoon se hart aanraak of een persoon se dag verryk met ‘n glimlag.

Die oomblik wanneer ons, onsself sien as God se briewe van hoop, geloof, liefde, blydskap, uithouvermoë en krag gaan ons soveel meer van ‘n impak hê in ander se lewens. Ons kan met elke interaksie, verhouding of gesprek ‘n impak op ander se lewens hê as ons kies om daagliks op die vleestafels van ander se harte te skryf.

- Liefde Charné ♡

670 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page