top of page

Jy is nie ‘n sissie nie – jy is ‘n vasbyter!



Mooistevrou, is jy okay?


As ek vandag vir jou vra hoe dit met jou gaan, sal jy kan eerlik wees of gaan jy vir my die generiese: “Goed dankie en met jou?” antwoord gee? Hoe gaan dit régtig met jou? Leef jy? Of oorleef jy?


Huil jy saans jou kussing sopnat omdat jou man of kind gesterf het? Het jy ‘n huppel in jou stap of sleep jy jou voete saam met jou deur die dag? Glimlag jy soggens vir jou refleksie in die spieël of laat die ongewenste plooie en dubbel ken jou hart sink? Is jy dankbaar om te kan werk toe gaan, of sit jy leweloos op die bed se rand - onseker oor presies hoe jy deur die dag sal kom?


Voel jy gesond en gemaklik in jou lyf, of is daar nie meer klere in die kas wat gemaklik sit en die ekstra kilogramme verbloem nie? Werk jy elke dag kliphard en tog bly elke maand langer as wat jou salaris strek? Is jou huwelik ‘n stryd waar jy meer verloor as wen? Staan jy onvervuld, al dien jy?


Is jy moeg? Die tipe moeg wat slaap nie kan beter maak nie? Is jy oorweldig deur al die nimmereindigende rolle wat jy daagliks moet vervul? Is jy uitgebrand om dokter, berader, onderwyser, beplanner, leier, raadgewer, dissiplineerder, kok, skoonmaker, onthaler, vermaker, versorger, vrou, ma, kollega, suster en vriendin te wees?


Is jou google kalender stampvol aktiwiteite en verpligtinge, maar nie een van hulle is vir jóú nie? Is jy moedeloos oor die krag situasie en die impak daarvan op die voortdurende prysstygings? Is jy bekommerd omdat jou salaris nie meer genoeg is om die basies kruideniers mandjie te kan bekostig nie? Boer jy agter uit al probeer jy hoe hard om vorentoe te beweeg?


Is jy verbitterd omdat jy verstoot, verwerp en vergeet word deur die vir wie jy nog net goed was? Is jy skaam oor ‘n onvergeeflike fout wat jy begaan het? Is jy in die greep van ‘n verslawing wat jy nie kan erken nie en waaruit jy ook nie kan loskom nie? Wil jy moed op gee op die lewe omdat almal met jou moed op gegee het? Is jy in die middel van ‘n storm en beleef jy die een terugslag op die ander? Probeer jy om die vure om jou te blus, maar die probleme is meer as wat jy kan hanteer?


Mooistevrou, vandag moet jy mooi luister en fyn lees. Ek wil hê jy moet weet dat jý die potensiaal het om beter te wees. Jy moet weet dat jóú lewe en jóú môre die potensiaal het om beter te wees.


Hierdie diep, donker en eensame plek waar jy jouself vandag bevind, is nie jou eind bestemming nie. Dit is nie die storie van jou lewe nie. Dit is nie hoe jou storie eindig nie. Dit is net ‘n hoofstuk. Dit is die wildernis waardeur jy moet gaan om by jou Kanaan uit te kom. Jou Kanaan lê en wag vir jóú. Ek belowe. Maar meer as dit, God belowe.


Hierdie ding wat jy in die gesig staar is tydelik. Al voel dit nimmereindigend. Al voel dit of die mure van jou omstandighede jou vasdruk en jy geen uitkom kans sien nie. Dit sál verby gaan. Dit sál beter word. Jy sál hierdeur kom. Met intensionele besluite, met daadwerklike optrede, met God se genade en met Sy leiding.


Moenie dat ‘n 40 dae reis in 40 jaar in die woestyn verander a.g.v. ongehoorsaamheid en impulsiewe besluite nie. Gaan hoor by God wat jou volgende stap moet wees. Watter afdraai jy moet vat. “A good man’s steps are ordered by the Lord”.


Neem kennis: God se uitkoms lyk selde soos die plan in jou kop. Hy werk en voorsien op wonderbaarlike maniere. Maniere waaraan ons nie eers kan dink nie. Hy werk in ander dimensies waarvan ons nie eers bewus is nie.


Jou lewe het ‘n doel. Jý het ‘n doel.


Moenie opgee op die lewe nie. Die trauma, die verlies, die pyn, die tekort, die onsekerheid...dit is ‘n oomblik in vergelyking met die res van vir ewig. “This too shall pass.” Dra jou kruis terwyl jy wag vir jou kroon.


Volhard. Jy moet aanhou beweeg. Weg beweeg van dit wat jou siel breek. Moenie die seer met jou saamdra nie. God wil en kan jou vrymaak daarvan.


Jy gaan nie net hierdie ding oorleef nie, jy gaan as oorwinnaar uit die stryd tree. Tree net. Jy gaan beter, sterker, wyser, meer toegerus en dankbaar uit die woestyn stap as wat jy daar in gestap het.


Mooistevrou, jy sal weer okay wees. Daar is soveel mooi en goed om na uit te sien.


Hoe weet jy dat alles wat jy nodig het en na hunker nie aan die ander kant van depressie, verslawing, egskeiding, siekte en uitbranding lê nie? Die volheid van die lewe ís vir jóú beskore - nie net vir ander nie.



Jou oë en hart sál weer saam met jou mond lag.


Jou slapelose nagte sál weer tot ‘n einde kom.


Jy sál deur die maand kom.


Jy sál weer vrede en vergenoegdheid ken.


Jy sál weer liefde vind.


Jy sál weer vertrou.


Jy sál jou studies voltooi.


Jy sál daai bevordering kry.


Jy sál alles oorwin wat jy tans beleef.



Alles op die regte tyd.



Jy is nie ‘n sissie nie, jy is ‘n vasbyter!



Byt vas, mooiste vrou.


Byt net nog ‘n rukkie vas.




7,410 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page