“Jy sal weet.”
‘n Gesegde waarmee ons almal al in ons lewens gekonfronteer is. Een wat ‘n oom of tannie of selfs dalk jou ma op een of ander tydstip in jou lewe vir jou ook al gesê het. ‘n Gesegde wat automaties ‘n reaksie ontlok, hetsy aanvallend of ignorant.
Wanneer die skoen te gemaklik pas, is ons geneig om aanvallend te raak wanneer iemand hierdie gesegde na ons kant toe gooi. “Jy sal weet wanneer jy die regte een ontmoet.” Ja, ek weet, dankie tannie. Ek weet, want ek het hierdie perfekte lysie in my kop van wat ek in ‘n lewensmaat en sielsgenoot soek, so ja tannie, natuurlik sal ek weet. Wat ek eintlik net wil weet is wanneer. So as jy nie vir my kan sê wanneer ek hierdie ridder op ‘n wit perd, boer in hilux of stadsjapie in Starbucks gaan ontmoet nie, hou asseblief jou “so waar is jou kêrel?” of “wanneer trou jy?” vrae vir jouself.
Die tweede skoen wat ongemaklik maklik pas is die een van ignorance. Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie. Dit laat my soms dink aan ‘n toneel waar ‘n dogtertjie agter haar hande wegkruip met haar ogies styf toegeknyp, want as sy nie die monsters kan sien nie, kan die monsters nie haar sien nie. Ongelukkig kruip hierdie monsters nie onder ons beddens weg nie, maar vind ‘n tuiste in ongesonde vriendskappe, beledigende verhoudings, ons eie toksiese gedagtes en gewoontes. Alles dinge waarvoor ons so maklik ‘n blinde oog gooi want die waarheid is maar ‘n bitter pil om te sluk.
Ek moes al leer dat in albei gevalle, “Jy sal weet.” waarskynlik een van die kragtigste dinge is wat iemand vir jou kan sê. Ja, in die oomblik is dit glad nie wat jy wil hoor nie, jy vererg jou eintlik vir iemand wat op die oog af geen begrip het vir wat werklik in jou hart, jou gemoed of in jou lewe aangaan nie, want dit is maklik vir iemand om van die kantlyn af kommentaar te lewer oor ‘n wedloop wat hulle nie self hardloop nie. Dit maak my selfs soms woedend wanneer iemand, wat reeds gekry het waarvoor jy nog bid, so maklik jou gevoelens verontagsaam asof dit nie geldig is nie, want jou tyd sal kom en jy sal weet.
Alhoewel dit die waarheid is, al weet ons ons tyd sal kom en ons sal dan weet, wat doen jy intussen? Dit is nie altyd maklik om aan te hou hande klap wanneer ander mense voor jou oor hulle wenstreep trap nie, maar jy weet tog in jou hart julle hardloop nie dieselfde wedloop nie, so jy hou maar aan klap. Soms raak die gebede harder en hande klap sagter, ander kere klap ons harder hande as wat ons bid want hoe lank moet ek nou nog hieroor bid voordat dit my beurt is?
Mooiste Vrou, pray without ceasing.
Jy hou nie op bid nie. Jy kan ophou hardop hande klap, maar jy hou nie op bid nie. Net soos atlete, moet mens soms eerder op jou eie baan fokus, voordat jy na iemand anders se baan kyk want dan gaan dit vir jou voel of jy agter raak. Jy mag bietjie sagter hande klap as dit beteken jy spaar bietjie van jou siel se energie om net vir nog ‘n klein bietjie langer, ‘n klein bietjie harder te bid. Om jouself en jou eie baan te kies, stel jou nie in staat om iemand anders se baan te pootjie nie want jy is gefokus op die pad wat voor JOU lê. Jy het nie tyd om te fokus wat die een langs jou doen nie, want jy is te besig om te fokus waar jy jou eie energie gaan verplaas.
Dit is so belangrik om soms jou energie op jouself te plaas, en ek glo uit ons vroulike natuur doen ons dit te min want ons voel skuldig dat dit uit ‘n plek van selfsug voortspring, maar ten koste van wat is jy bereid om altyd laaste weg te spring of altyd eers vir almal anders hande te klap of om eers vir almal anders lokvolle uit die weg te ruim? Jy hardloop jou eie wedloop, en jy kan nie staatmaak daarop dat iemand vir jou gaan hande klap, of lokvalle uit jou weg ruim nie.
“Jy sal weet” is een van die kragtigste woorde wat iemand met jou kan deel want dit dwing jou om introspeksie te neem van wat jy werklik in alle aspekte van die lewe wil hê. Jy kan nie wag vir iets of iemand, as jy nie weet waarvoor jy wag nie want hoe sal jy dit herken wanneer dit aan jou deur kom klop? Jy is ‘n direkte resultaat van die keuses wat jy maak. Jy kan kies om aanvallend te raak wanneer iemand jou met hierdie ongevraagde punchline toespreek, of jy kan kies om jouself blind te hou selfs wanneer jy weet wat die waarheid is. Ieder geval het ek al geleer dat “Jy sal weet” is nie noodwendig net op toepassing van alles wat goed en reg lyk nie. Jy sal ook weet wanneer iets nie goed of reg is nie, en die werklike waarheid van jou karakter gaan jy in jou optrede vind wanneer jy voor hierdie realiteit te staan kom.
Wat gaan jy doen wanneer jy weet iets is nie reg nie. Wanneer iets nie in lyn is met jou waardes, jou drome, jou doelwitte of met die Waarheid wat ons Skepper oor jou spreek nie? Gaan jy aanvallend raak, gaan jy ‘n blinde oog gooi, of gaan jy die moeilike besluite neem om jou introspeksie-lysie te hersien en braaf genoeg wees om te sê, “Hierdie is nie waarvoor ek bid nie, hierdie is nie wat ek verwag of voor wag nie. Ja, die tydsbereking is goor want ek soek dit so graag, maar ek sal nog ‘n klein rukkie wag vir wat ek weet ek verdien. As God dit vir hulle kon doen, sal Hy dit vir my ook kan doen.”
Ek hoop volgende keer wanneer iemand ‘n ongevraagde opinie in jou rigting gooi, ontvang jy dit met ope arms sodat dit in die fondasie van jou introspeksie kom krap. Soms lyk dinge van die wêreld so bedrieglik dat mens nie altyd besef wat jy dink jy soek, nie werklik in lyn is met die begeerte wat God in jou hart geplant het nie. Ons raak so blind vir wat almal om ons het, of hoe almal om ons se paaie lyk dat ons dink ons paaie ook so moet lyk. Ons word tot so mate bedrieg dat ons onsself oortuig dat wanneer ons harder vir ander mense hande klap, ons seëninge vinniger gaan kom, en wanneer dit nie doen nie word ons gebede sagter want ons eie planne en wil geskied nie.
Jou pad is nie uitgelê om soos die een langs jou s’n te lyk nie. Jy hardloop nie dieselfde wedloop nie. Ek hoop van harte jy besef dit is okay om jou energie op jouself te fokus, op jou eie baan te fokus en so nou en dan vir jouself ook hande te klap vir hoe vêr jy al gekom het. Die wedloop van die lewe is nie altyd maklik nie want ons het te veel vra en te min antwoorde, maar in werklikheid is ons besig om te veel te vergelyk en die journey te min te geniet vir waar ons onsself nou bevind. Comparison is the thief of joy. Onthou dit volgende keer wanneer jy na iemand anders se wedloop kyk eerder as om jou oë op die reguit pad wat spesifiek vir jou uitgelê is, te fokus. Niemand anders kan jou wedloop hardloop nie, maar jy moet onthou jy is ook nie gemaak om iemand anders se wedloop te hardloop nie. Koester die mense wat langs die pad hande klap, of vorentoe op jou pad lokvalle wegrol, maar moenie jouself pootjie deur eers alles vir almal anders te wees en vergeet om genoeg van jouself vir jou eie wedloop oor te hou nie.
Versies van Bemoediging:
“Rejoice always and delight in your faith; be unceasing and persistent in prayer; in every situation be thankful and continually give thanks to God; for this is the will of God for you in Jesus Christ.”
1 Thessalonians 5:16-18
“At the right time, I, the Lord, will make it happen.”
Isaiah 60:22
“Many are the plans in a man’s mind, but it is the Lord’s purpose for him that will stand.”
Proverbs 19:21
“But the Lord stood with me and strengthened me.”
2 Timothy 4:17
“Do not be anxious about anything, but in every situation, by prayer and petition, with thanksgiving, present your requests to God.”
Philippians 4:6
Liedjies vir die Week:
Lauren Daigle – Trust in You
Katie Torwalt – Remember
Jeremy Camp – Keep Me In The Moment
Elevation Church – Do It Again
For King & Country – Fix My Eyes
Lydia Laird – Hallelujah Even Here
Riana Nel – Jy sal Weet
Herman Kleinhans – Net Jy Weet
Baie Liefde,
Rouxnette <3