top of page

Ken God jou?


Eendag was daar 'n jong seuntjie wat in 'n klein dorpie gebly het. Sy ouers was arm en kon skaars genoeg geld bymekaar maak om na hulle twee kinders te kyk. Stadig, soos tyd aan beweeg en die seuntjie groot word, het sy pa homself vergryp aan drank en sy ma het ook nie veel beter gedoen nie. Nogtans het hulle probeer om ouers te wees, maar die seuntjie het begin leer om na homself en sy jonger sussie te kyk. Hy het na skool gewerk en het vinnig geld verdien om kos te voorsien vir sy familie. Die pa het nie hiervan gehou nie en drank het sy humeur ook nie verbeter nie. Een middag, het die pa sy opgekropte woede op sy vrou uitgehaal. Haar gille kon van vêr gehoor word, maar niemand het kom help nie. Die seun het vinnig gedink en sy sussie weg gesteek net voordat die kamerdeur oopswaai en die pa daar staan met die belt…sy seun die volgende slagoffer.


Na daardie dag, het die seun sy sussie gevat en weg gehardloop. 'n Paar jaar later, en baie moeilike nagte, het hy tevrede gestaan voor sy eie winkel terwyl sy sussie begin met haar laaste jare van skool. Hy het hard gewerk en voordat almal mooi weet wat gebeur, het sy besigheid gegroei, uitgebrei en ontwikkel regoor die land. Hy was gekroon as die suksesvolste en rykste man in die land en hy kon seker maak dat sy sussie nooit weer hardseer ken nie. Hy het toe terug gegaan na sy dorpie toe om dié te help ontwikkel en uitbrei. Hy het projekte begin om sy woonbuurt 'n beter plek te maak en toevlug huise gebou vir kinders wat ook mishandeld word deur hulle ouers. Sy projek het gegroei en vinnig het hy 'n bewusmaker geword vir kinders in moeilike omstandighede. Later het hy 'n familie begin en het hy op 'n ryke ouderdom ingee vir 'n ewige lewe. Toe hy voor die hek staan, gretig om Jesus te ontmoet, was hy verbaas dat niemand hom inlaat nie. Hy staan voor die hek en vereis 'n verduideliking: “Ek het als gedoen wat U wil hê. Ek het mense gehelp en hulle lewe verbeter, hoekom verlaat U my nou?”

Jesus verskyn en kyk treurig na hom. “Ek weet van al jou dade en jy het baie mense gehelp, maar ek het jou nooit geken nie.”


Sjoe…so eenvoudige paar woordjies, maar met baie tref krag.

Kan jy jouself indink? Jy spandeer jou lewe om mense te help, net om voor God te staan en te hoor “Ek ken jou nie”. As jy dink ek grap, wel, jy hoef net na die Bybel te draai om te sien hoe my storie gereflekteer word in Matteus 7:21-23:


Nie almal wat vir my ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was. Baie sal vir My op die oordeelsdag sê: ‘Here, Here, ons het in U naam gepreek en in U naam bose geeste verdryf en in U naam baie wonders verrig!’ Dan sal ek hulle antwoord: ‘Julle was nog nooit werklik my mense nie. Gaan weg van My af! Julle het nie gedoen wat voor God reg is nie.’


Ek gaan eerlik wees en sê, dis 'n bietjie angswekkend om te besef dat nie almal wat goed doen by die hemelse hekke sal kan instap nie. Ek meen, as jy, soos die seuntjie, jou lewe spandeer om seker te maak dat ander kinders nie dieselfde deurgaan as wat hy het nie, en dan nogsteeds nie die hemel kan ingaan nie…dan wat dan? Hoe weet jy wat is goed of wat werk? Hoe weet jy dat jy God ken? Sekerlik leer jy God ken deur jou Bybel te lees? God leer jou sekerlik ook ken wanneer jy tyd met Hom spandeer in stilte tyd en in die kerk? Hoe weet jy of God jou ken of nie?


Hoe weet jy of God jou ken?


Dis als goeie vrae, en ek is seker hierdie vrae kan bygelas word by die hoop goeie vrae met geen antwoorde nie, maar dit verander nie nie feit dat daar geen blywende antwoord is nie. Tog, wil ek vandag gebruik maak van die geleentheid om my perspektief op die onderwerp te deel.


As ek moet dink aan die seuntjie, en hoekom hy nie die hemel kon ingaan nie, is daar een rede wat vir my duidelik uitstaan – motivering. Jy het my reg gehoor, motivering. 'n Ander woord wat dalk meer verklarend vir jou kan wees, is – motief of beter, die ‘hoekom’ agter jou aksies. Dink jy, en net as jy mooi daaroor gaan dink, dink jy rêrig dat die seuntjie die mense gehelp het omdat God dit vra? Of het hy hulle gehelp omdat hy probeer wegkom van sy eie demone? 'n Verlede waarmee hy nog nie vrede gemaak het nie?


Dis vrae wat die perspektief heel te mal verander en ek hoop ook dat dié jou laat dink oor jou eie motiewe. Gaan jy kerk toe omdat jy wil of omdat die norm dit jou vereis? Help jy 'n arm persoon omdat jy wil of omdat jy bang is jy word veroordeel deur ander mense? Help jy iemand uit die goedheid van jou hart of help jy hulle net in die publiek, waar mense jou kan prys vir jou goeie dade? Dis ook 'n ander kant van die argument, nê? Prysing, die dankbaarheid en positiewe aandag wat jy van ander mense kry wanneer jy iets goeds doen. Wanneer die persoon wat jy help ondankbaarheid wys, dan kan jy jou hande in onskuld was en onskuldig voor ander mense optree. Daar word reeds ook gesê: “Ek wil nie weet wie jy is voor mense nie, ek wil weet wie jy is wanneer die deur toe gaan en jy jou masker afhaal”. En ek dink dis, op 'n manier, wat Jesus bedoel het met “Ek ken jou nie”. Jesus wil jou leer ken, foute en al. Hy wil jou hart hê. Dis seker ook hoekom die idioom lui, ‘waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor’. As jy Jesus rêrig ken en in jou hart inlaat, dan sal mense dit sien in die manier hoe jy optree. Dis wanneer jy Jesus inlaat wanneer Hy jou ook gaan leer ken.


Maar hoe weet jy watter aksie waar of nie waar is nie?

Wanneer jy jouself ten volle oorgee aan Jesus; dis beide die wonderlikste ding wat jy kan doen, maar dit is ook oorweldigend. Jou pad saam met Jesus is nie perfek nie en iewerste verloor jy jou moed en motivering. Dis waarvoor Jesus kerkleiers en ander geloofsleiers aanstel, om daar te wees om jou te help met jou reis. Onthou, Jesus werk op verskillende maniere en deur verskillende mense om met jou te kan praat en te help. Dis, in my mening, hoekom dit so belangrik is dat jy God ken en Hy vir jou. Hy gebruik jou weer om ander te help met hulle geloofsreis.


Maar wat van die valse profete? Kan hulle jou weglei van jou geloofspad met hulle hulp? Die antwoord – natuurlik kan hulle. Al ooit gehoor van die idioom ‘van die wal af binne-in die sloot’? Wat sê Jesus van die valse profete in Matteus 7:15-16?


“Pas op vir die vals profete. Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammertjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe. Julle sal hulle optrede uitken, net soos 'n mens 'n boom aan sy vrugte kan uitken.”

Ek dink albei van ons kan saam stem dat daar baie valse profete daar buite is. Hulle voorkom oralste voor – in jou familie, jou skool, jou kerk en self jou Sondaggroepie. Dis benoudend om te dink hoeveel wolf in skaapklere daar werklik is; uit om ons van die ware pad af te kry. Dit help ook nie dat daar so baie mense daar buite is wat hulle eie mening wil gee oor hoe 'n goeie Christen moet lyk nie.


My antwoord? Daar is nie so 'n ding soos ‘perfekte’ en ‘goeie’ Christen nie. As God wou gehad het ons moet perfek wees, dan sou Hy ons engele gehou het, maar hy het ons gemaak en die aarde vir ons gegee as 'n tuiste. Hy het ons vrye keuse gegee of ons by Hom wil wees of nie. En kyk wat het ons met daardie keuse gemaak? God kon 'n diktator geword het soos soveel ander leiers, maar Hy gee ons 'n keuse en ontvang ons weer met ope arms wanneer ons verdwaal het en wil terug kom. Hoeveel leiers ken jy wat so is?


Van die punt is, maar al wat ek vandag wil sê is, as jy God ken, soos in werklik ken, dan sal jy in sy voetspore volg en jy sal al die vals profete en hul leuens uitken. Wanneer God jou ken, dan sal Hy saam met jou wees elke sekonde van jou lewe, jou beskerm en jou lei deur jou donkerste tye. Dit als begin my die Bybel – God se woord. Baie mense verstaan nie die Bybel nie omdat hulle nie die Heilige Gees nooi om hulle te help verstaan nie, maar vandag nooi ek jou uit! Wanneer jy weer jou Bybel lees, nooi die Heilige Gees uit om jou oë oop te maak vir die waarheid en dan sal jy eweskielik met nuwe oë na jou Bybel kyk. Jy sal God leer ken en jy leer Hom ken deur sy woord. Ek dank die Vader elke dag dat ons die wonderlike voorreg het om self die Bybel te kan lees. In die ou dae moes ons die woord van een man glo en kyk waar is ons nou. Ons kan self ontdek en self agterkom wie is vals en wie is nie.


Wel, dis al vir nou en ek hoop dat ek jou vandag geïnspireer het om na jou lewe te kyk met ander oë en om vir jouself te vra: “Ken ek God en ken Hy my?” Onthou, dit kan die verskil wees tussen 'n ewige lewe saam met Hom of een waar jy alleen is.


deur Marianne Hennig








414 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page