Kerstyd – ‘n seën
Dis Kersbome in die winkelsentrums, jaareindfunksies, Kersfees flieks op die televisie en mense wat die dae af tel na die feesdae… is ek al gereed vir die vieringe? Ek weet nie. Is ek reg vir ‘n paar af-dae, verseker!
Die jaar was lank, tog het dit binne ‘n oogwink verby gevlieg. Onseker oor die feit dat nog ‘n jaar verby is, tog gereed vir ‘n nuwe hoofstuk om af te skop.
Die Kerstyd, Desember-vakansie is altyd vir my bitter-soet. Ek sit altyd met gemengde gevoelens, dalk is ek net simpel. Tydens die feesvieringe voel ek altyd broos, jammer vir dié wat agter bly, tog dankbaar vir die geleentheid om op vakansie te wees. Opgewonde vir die famile-tyd, maar hartseer vir dié wat alleen is.
Die blaaskans gee mens tyd om te dink oor die jaar, wat met jou gebeur het, waardeur jy gegaan het – was dit ‘n goeie, “okay” of slegte jaar. Tog is dit belangrik om al die positiewe punte in jou lewe raak te sien en nie net al die slegte dinge wat met jou gebeur het nie. Tog is dit ‘n tyd vir dankbaarheid en vreugde.
Daar’s vir my niks mooier as Kersliedjies, die liggies in die ruite van die Duitse-huisies by die see en die opgewondenheid in die oë van die kindertjies. Die feestyd moet ‘n tyd wees van baie liefde, vergifnis en vrede.
Familie, samesyn, kuiers om die kombuis tafel, braai in die skemer-see-lug; dit is vir my vakansie. Dit is waar my siel kan voed en net wees. Tussen my mense is waar ek “recharge” om ‘n splinternuwe hoofstuk en jaar aan te pak. Dit is waar ek voel ek behoort.
Party mense droom van wit Kersdae, pajamas en ‘n kaggel. Ek droom oor my mense. Mense is vir my Kersfees. Dis soos die “sê-ding, my man of my mense is my huis, maak nie saak waarheen ek gaan, solank my mense daar is, voel ek tuis.”
Ek dink ons vegeet so maklik die doel van Kerstyd en waarom ons dit eintlik vier, ons sien dit net as vakansie. Mag ons die jaar onsself herinner waarom ons eintlik die voorreg het om Kersfees te vier. Mag ons die jaar ‘n oomblik neem om emosioneel te wees, om Jesus te vier en ons dankbaarheid te toon. Die Kerstyd is ‘n seën.

Foto deur: Kelly Sikkema