top of page

Kom ons bou mekaar eerder op

Opinies, "onskuldige" kommentaar en 'ek sê maar net' 's rol so maklik oor ons tonge. Ons neem 'n situasie waar en maak onmiddelik ons eie afleidings en aannames. Ons skep ons eie storie waarom iemand iets doen of nie doen en optree op 'n sekere manier. Vandag is ons ingestel om net die mooiste foto's met die oulikste opskrifte vas te vang. Maar agter elke prentjie-mooi storie is daar baie maal meer tot die verhaal as wat ons werklik kan sien. Dis net nie noodwendig iets wat die persoon bereid is om met die wêreld te deel nie. Dis onvermydelik dat ons deur dinge in ons lewe gaan. Elke persoon het 'n verlede en iewers is daar iets wat ons gevorm het en 'n impak op ons toekoms gehad het. Hierdie is nie 'n verskoning vir onaanvaarbare gedrag of rede om nie aan sekere dinge in ons lewe te werk en verander nie. Maar daar is dinge wat sonder twyfel 'n mens se lewe beïnvloed het en waarmee ons moes leer om mee saam te lewe. Die impak van 'n ongeluk, die realiteit dat jy nooit swanger sal kan raak nie, 'n siekte waarmee jy moet saam leef, die dood van 'n geliefde. Daar is ook dinge in mense se huwelik, finansies en beroep wat nie in die oopte is nie, maar waarmee hulle elke dag gekonfronteer word. Mense is nie geneig om so maklik die diep, seer stories te vertel nie. Ek byvoorbeeld verpes dit wanneer mense vir 'n paartjie vra wanneer hulle nou eendag kinders gaan begin kry. Ek het 'n jong vriendin wat hierdie vraag baie gevra is, net vir haar om 'n getuienis te deel hoe sy reeds 'n babatjie met geboorte moes groet. Daar is altyd meer agter mense se doen en late. Ons praat te maklik. Ons oordeel te maklik. Tot ons nie fisies in iemand anders se skoene staan nie, is ons nie in 'n posisie om enige kommentaar te lewer nie. Efesiërs 4:29 sê: "Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel." Kom ons verander hoe ons oor ander praat, veral as ons nie die volle storie ken nie. Laat ons eerder woorde gebruik wat opbou en almal bevoordeel. En kom ons bid eerder vir mekaar. Bid dat wat ander se storie ookal is, God magtig sal intree en herstel, oplig, vrede en genade sal bring sodat ten einde elkeen van ons eerder met ons monde Sy lof sal besing.


147 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page