Kom soos jy is….
Saterdae is ons ‘slow-days’ soos ek dit noem. Teen half 10 is my hare nog in ‘n bolla, die wasgoed masjien is darem aan, en my dogtertjie speel al jolig in haar pajamas om my rond. Ek kry ‘n boodskap van ‘n vriendin - hoe lyk jou dag, koffie ons? Sonder twyfel is my antwoord ja!
Met dié bel sy, en sy sê ek moet net verskoon sy is in haar gemaklike klere sonder grimering. Hierdie woorde maal toe heel dag in my kop rond. En ek dink, is dit nie wat vriendskap is nie? Kom soos jy is, want in vriendskap moet jy nie voorgee nie. Kom sit met jou voete op ons bank en wees tuis.
In ‘n vriendskap maak jou mooiste klere en grimering nie saak nie, dit gaan oor die harts-gesprekke wat gedeel word, die opregte lag en saam huil, die verstaan en luister waar deur die ander een gaan, en bloot net om ‘n goeie vriendin te wees.
Ek het dit seker nie so erg agter gekom voorheen soos nou nie, maar deesdae kan ‘n vriendskap só gou toksies raak. Jaloesie kruip in en verwoes alles, dié een wil soos die ander wees, julle weet? Vir my is daar nie nóg plek vir dit óók in ons samelewing nie. Dit is reeds moeilik, so wees net jouself, ondersteun die ander een, en as daar iets is wat krap, gesels eerder daaroor of beweeg aan. Party is bedoel vir ‘n seisoen, party vir ‘n leeftyd.
Vriendskappe kan ons help om ’n gelukkige en suksesvolle lewe te hê. Goeie vriende bring die beste uit in mekaar en kan maak dat ons beter mense word. – Spreuke 27:17.
Maar die Bybel sê dat dit belangrik is dat ons versigtig moet wees wanneer ons ons vriende kies. Dit waarsku ons teen die slegte gevolge wanneer ons verkeerde vriende kies (Spreuke 13:20; 1 Korintiërs 15:33). Sulke vriende kan veroorsaak dat ’n persoon slegte besluite maak of dat hy sy goeie eienskappe verloor.
Dis okay as vriendskappe nie uitwerk nie, want soos met alles gebeur dit vir ñ rede. Maar, dit is uiters belangrik om na jouself ook te kyk in ñ vriendskap, sodra dit jou goeie eienskappe affekteer moet jy weet hierdie was net vir ñ seisoen bedoel.
’n Goeie vriend is lojaal, liefdevol, goedhartig en vrygewig.
‘n Goeie vriend is iemand op wie ons kan vertrou om ons te help wanneer ons deur moeilike tye gaan.
‘n Ware vriend sal moedig genoeg wees om iets te sê wanneer ons iets doen wat onverstandig is of wanneer ons ’n slegte besluit wil maak.
“Reukolie en wierook is iets om te geniet, maar die genot van vriendskap lê in die raad wat jy kry.”
SPREUKE 27:9 AFR83
Mag die vriendskappe wat jy koester die beste in jou uitbring, mag jy met jou hart na jou vriendin kyk en God se liefde uitleef!