top of page

Kyk Deur God se Oë


Ek haat dit om bril te dra. Ek besef ‘haat’ is ‘n baie sterk woord, maar dis hoe sterk ek oor die feit voel dat ek ‘n bril moet dra om deur die lewe sienend te kom.


Ek was in Graad 7 en het heel agter in die klas gesit. Ons was alfabeties opgedeel en dis nou net waar my nooiensvan my my sitplek toegeëien het (glad nie omdat ek daar agter meer kon skelm gesels of kattekwaad aanvang nie).


Maar eendag kom ek agter dat ek nie meer so lekker op die bord kan lees nie. Na ‘n oogartsafspraak is my lot verseël: brildra is my voorland.


So begin ek my hoërskoolloopbaan met ‘n bril. Hier staan ek toe: ‘n spierwit, geraamte meisie, met hare wat eintlik ‘n haaryster nodig het (waarvoor ek nie geld gehad het nie) en ‘n bril. Voeg daarby ‘n bietjie hormone oor jou gesig gesprinkel en plaas my in die akademiese klas en jy het die tipiese definisie van ‘n ‘nerd’. Van selfvertroue kon ek nie eens dink om te praat nie.


Beweeg vyf jaar aan en op my matriekafskeid dra ek kontaklense. Dit was die begin van ‘n nuwe seisoen vir my. Soos ek deur kollege gegaan het en my eerste paar jaar van werk, het die hormone begin bedaar en my vel beter geraak. Ek het bietjie meer vleis aan my lyf gekry, ‘n haaryster aangeskaf en geleer om grimering op te sit. Vir die eerste keer van my brildra-dae het ek mooi gevoel. Nie meer skaam om uit te gaan of gevoel dat ek die vel van my gesig kon afkrap as ek in die spieël gekyk het nie. Mense het my ook begin raaksien as iemand wat saak maak (en nie net iemand wat ‘n maklike teiken was om te spot nie) en komplimente gegee waarop my selfvertroue kon floreer.


Maar toe sit ek met die anderkant van die probleem: om nie sonder grimering of met my bril gesien te word nie. Ek kon in ‘n toestand gaan as mense onverwags by ons opdaag laat aand wanneer ek moontlik klaar gesig gewas het en my lense uitgehaal het. Of vroegoggend voor ek myself kon tittewyt vir die dag. Ek moes van kop tot tone perfek lyk. Is selfvertroue dan nou regtig selfvertroue as daar voorwaardes betrokke is?


My woord vir die jaar is ‘genoeg’. Alhoewel ek nie voel dat ek so gefokus is op dit wat die Here vir my daardeur wil sê nie. Met die deurmekaar wêreld, ‘n woelige eenjarige, studies wat ek probeer klaarkry en nog meer, voel dit soms of ek net deur die lewe jaag. Maar soos ek hier sit en tik, met my bril op, wonder ek of al wat die Here nie net dalk vir my wil sê nie, is dat ek genoeg is.


Die hele jaar sover is ek terug op brildra nadat my oë einde laasjaar met hooikoors en allergieë besluit het, my kontaklense is ook ‘n irritasie. Ek kon huil daardie dag wat die oogarts vir my sê dat sy twyfel of ek ooit weer kontaklense sal kan dra. En enige hoop, buiten ‘n bril, is onbekostigbaar vir my. Ek was so onsteld en teleurgesteld. In die Here dalk? Hy weet mos hoe ek voel oor bril dra.

Skielik moet ek werk toe met ‘n bril aan. Almal hanteer my nog dieselfde en sommige sê selfs my bril is mooi en pas by my. Vir die eerste paar maande het ek nog kontaklense oor die naweke gedra wanneer ons uitgaan iewers of kerk toe op ‘n Sondag. Ek wou tog nie hê die mense moet my so sien nie. Wat as hulle dink ek is nie meer mooi ( = waardig) nie. Winkelstoe met my bril was ‘n nagmerrie. Ek kon skaars my kop optel en omdat my lense so dik is, val die bril baie maklik af en het dit ook nog trane en frustrasie besorg.

Ek het Julie laasjaar mamma geword en natuurlik saam met dit kom by veranderinge aan ‘n vrou se lyf wat nooit weer dieselfde gaan wees nie. Om hiermee alleen te handel was erg genoeg, maar toe dit eers kom dat ek weer terug op my bril moes gaan, was dit net te veel en was daar oggende wat ek nie in die spieël kon kyk of by die deur wou uitgaan nie.

Omdat ek as jong meisie op skool met ‘n bril baie geterg en gespot is, maar jare later brilloos aanvaarding van mense ontvang het, het ek my waarde en identiteit gekoppel aan die dra (of nie dra) van ‘n bril. Skielik as ek in die spieël kyk, het dit gevoel of ek terug verander in daardie stil, onsekere jong meisie. Die eerste paar maande was ek so selfbewus oor my bril. Ek wou skaars my kop optel.

Maar ek glo die Here werk al met my die afgelope paar maande. Daar was dae in my besige lewe wat mense my net gevang het sonder grimering en ek moes leer om daarmee te vloei. My oë voel net gemakliker sonder die kontaklense op hierdie oomblik en is ‘n bril my enigste ander opsie. My liggaam het ‘n klein mensie gegroei en gevestig wat my ver meer vreugde verskaf as ‘n perfekte lyf.


Een oggend kyk ek vir myself in die spieël en kom ek net tot hierdie besef. Dit het nooit gegaan oor of ek bril dra of nie. Of ek grimering aan het of nie. Of ek perfek lyk of nie. My waarde en identiteit word nog heeltyd bepaal in dit wat ek glo.


Op skool het ek nie in myself geglo of dat ek waardig is en saak maak nie. Maar ek het soveel gegroei as vrou van daardie tyd af en om net weer ‘n bril te dra gaan niks verander nie. Die bril definieër my nie. Daar is net Een wat my kan definieër en Hy sê ek is waardig. Dat ek kosbaar en uniek is. Dat ek saak maak en ‘n plek in hierdie wêreld het.

Hoe anders sou my skoolloopbaan nie gewees het as ek hierdie daardie tyd werklik geglo het nie?


Wie ons is kom van binne onsself. Dit begin alles in ons gedagtes en deur watter oë ons na onsself kyk. Gaan jy deur die wêreld se bril kyk en jouself nooit as genoeg sien nie? Al jou foute en tekortkominge? Al jou imperfeksies? Jou heeltyd vergelyk en meet aan die wêreld se standaarde?


Of gaan jy deur God se oë kyk en sien die kosbare dogter van God wie jy werklik is?


288 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page