top of page

Laat Jou Laaste Herinnering, ‘n Mooi Een Wees

Daar is hierdie oom in ons kerk. Elke Sondagmôre is hy van die eerstes daar en sit hy Sondag na Sondag by dieselfde koffietafel in die voorportaal. So groet hy almal wat inkom en knoop geselsies aan. Altyd met ‘n vriendelike gesig. Ek en my skoonpa het nou al ‘n instelling op ‘n Sondag. Ek is gewoonlik in die Moederskamer met my seuntjie, dan kom groet my skoonouers ons daar en het my skoonpa vir my en hom ‘n koffie gekoop vir voor die diens. So met tyd, en die tipe mens wat my skoonpa is, het hy vir die oom ook op ‘n Sondag begin ‘n koffie koop. Waarvoor hy natuurlik so dankbaar was.


Toe my skoonpa so maand terug moes ingaan vir ‘n operasie en vir ‘n paar Sondae nie kon kerk bywoon nie, het ek die eerste Sondagoggend gou voorportaal toe geloop en vir my koffie gaan bestel. Ek sien die oom eenkant sit en wonder vir ‘n oomblik of ek vir hom ook moet koop. Hy is so gewoond aan sy Sondagoggend koffie en ek sê hulle moet maar vir hom ook een oplui. Met my seuntjie op die heup neem ek vir hom sy koffie en verduidelik oor my skoonpa. Verbaas dank hy my vir die koffie. So het dit gegaan vir twee Sondae.

Tot my skoonpa so twee weke terug bel om die nuus te deel dat die oom net onverwags oorlede is. Ons is geskok. Skielik is sy stoel op ‘n Sondagoggend leeg. Maar tussen al die ongeloof en emosies, is daar hierdie klein gedagte: ek is so bly ek het wel besluit om vir hom ‘n koffie te koop. Dis iets so kleins en eenvoudig, maar ek kon iets vir hom doen. Iets vir hom doen in sy laaste tyd op aarde – al het niemand van ons dit geweet nie.


Hoeveel maal gebruik ons nie die woorde ‘later’ of ‘volgende keer’ nie. Ek sal volgende keer meer vriendelik wees - ek het ‘n moelike dag gehad en is nie nou in die bui nie. Ek sal later gaan help – ek het nie nou tyd nie. Ek sal op ‘n volgende keer my goeie daad doen – vandag is ek nie lus nie.

Maar wat as daar nie ‘n volgende keer of ‘n later is nie?


Laas naweek het ek ‘n begrafnis bygewoon. My man se baas se ma is oorlede. Ek het nie die tannie geken nie, maar ek het die begrafnis verlaat en amper gewens ek kon haar ontmoet het. Haar familie het die mooiste dinge oor haar te sê gehad. Die omgee en liefdevolle ma en ouma wat sy was. My man se baas kon die laaste tydjie wat haar ma oorgehad het, saam met haar wees en hulle afskeidsgesprek was: ‘I love you’ en haar ma wat antwoord ‘I love you too’. Dis iets wat haar altyd sal bybly en iets waarop al die familielede gekommentaar het, hoe sy altyd vir hulle gesê het sy is lief vir hulle.


Wat gaan ons laaste herinnering wees aan en van die mense rondom ons die dag wanneer daar nie meer ‘n volgende keer of later is nie?


Ek besef al hoe meer hoe kort en onvoorspelbaar die lewe eintlik is. Een oomblik is die mense nog hier en dink ons ons het al die tyd in die wêreld, net vir môre om nie vir almal beskore te wees nie. Elke oomblik is so kosbaar en en elke oomblik het die moontlikheid om die laaste oomblik te wees. Wat gaan ons laaste herinnering wees?


Kom ons begin leef met ‘n ander ingesteldheid en sien elke verbygaan of totsiens as ‘n geleentheid om daardie persoon te seën met iets moois. Al is dit ‘n koffie aandra, ‘n kompliment gee, ‘n bemoedigende woord of ‘n eenvoudige, ‘ek is lief vir jou’. So verseker jy dat wanneer die laaste oomblik wel die dag kom, dat die herinnering daarvan mooi sal wees.


270 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page