LEER OM JOUSELF TE VERGEWE -CARLI
Ons as mense, maar soms meer so as vrouens, is geneig om ongelooflik hard op onsself te wees. Ons vergewe so maklik ander mense wat ons ‘n onreg aangedoen het, want dit is mos wat God van ons verwag, is dit nie? Maar hoekom is ons dan ons eie vyand? Om vrede te maak en aan te gaan is soms baie makliker gesê as gedaan.
Ons staan ure voor die spieël en druk elke liewe rolletjie wat verskyn op ons lywe, analiseer elke plooitjie, sproet en merkie en dink aan elke moontlike kosmetiese opsie om onsself eksie-perfeksie te laat lyk. Dit is so clichè om te sê, maar ware skoonheid kom regtig van binne af. Jy mag dalk nie die mooiste bene of vel hȇ nie, maar wat van jou omgee hart, jou glimlag wat hemele versit en jou ambisie? Dit is tyd dat ons leer om sagter met onsself te wees en te praat. Ek het eendag diè raak gelees en van toe af steek dit vas by my: “Imagine if you spoke to your best friend the same way that you speak to yourself?” Ek hoop dat jy elke keer voordat jy enige iets vir jouself sê die analogie sal toepas.
Hier is 5 wenke wat jy kan toepas om dit makliker te maak om jouself te vergewe:
Erken jou fout en sê dit hardop
Jy het toe nou onder temptasie geswoeg en jou derde stukkie sjokolade koek geëet (want twee stukkies is heeltemal aanvaarbaar!) en die skuldgevoel vreet jou op want jy het heel week getrou jou Pilates klasse bygewoon. Skryf dit neer in jou journal: “Ek het ‘n derde stukkie koek geëet, ek moes nie, want dit gaan teen die doelwit wat ek vir myself gestel het. Dit maak my nie ‘n slegte mens nie, ek het geleer daaruit. Ek vergewe myself.”
Gee jouself tyd om deur jou emosies te werk
Vergifnis is ‘n proses en dit vat tyd en emosionele kapasiteit. As jy weet dat dinge rof gaan by die werk, jou kind is dalk siek of jou huwelik het aandag nodig, moet jouself nie forseer om onmiddellik deur die proses te werk nie. Verbeel jouself jy sit jou fout in ‘n glashouertjie en jy bêre dit weg. Jy sal daarna terug keer wanneer die tyd reg is en wanneer dit tot voordeel van jouself sal wees om jou houer weer oop te maak.
Voer ‘n gesprek met jou innerlike kritikus
Om jou gevoelens neer te skryf kan jou help om jouself beter te verstaan en self-compassion te ontwikkel. Wat jy kan doen is om ‘n “gesprek” te voer met jouself op papier. Dit kan jou help om denkpatrone te identifiseer wat moontlik jou kanse om jouself te vergewe saboteer. Jy kan ook jou goeie kwaliteite neerpen en terug verwys daarnatoe as jy skuldig voel oor iets wat jy verkeerd gedoen het.
Pas jou eie advies toe
Ons is so maklik om ‘n oor vir ‘n vriendin te leen en goeie advies uit te deel, maar sodra dit by onsself kom, voel ons vasgevang in ‘n spiraal van self-twyfel. Luister na die fyn stemmetjie diep binne in jou. Jy het die vermoë om moeilike dinge te doen!
“If you have the ability to love, love yourself first.” - Charles Bukowski
Kry professionele hulp
‘n Terapeut, life coach, predikant of sielkundige is toegerus met die regte gereedskap om jou te help om jou emosies uit te pluis. Daar hoef geen skaamte daarin te wees om ‘n professionele persoon te gaan sien nie. Soms kan ons nie die berge op ons skouers alleen dra nie. Of dalk moet jy net op jou vriendinne staat maak en hul vra om vir jou te bid. Maak gebruik van jou ondersteuningsnetwerk.
Weet asseblief dat jy menslik is. Ons maak foute en ons leer daaruit. Moenie so ontsettend hard op jouself wees nie. GEEN fout wat jy maak gaan jou ooit wegvat van die liefde van die Here nie. Hy het jou alomvattend en onvoorwaardelik lief. As God jou kan vergewe, kan jy jouself ook vergewe. En onthou, God is die heel grootste geneesheer, gaan lê by Sy voete en ek belowe voordat jy dit weet is jy weer op Sy skouers!
“Healing doesn’t mean the damage never existed. It simply means that the damage no longer controls your life.”