top of page

Lief jou geliefdes



Die laaste tyd het ek weereens opnuut besef dat tyd vir niemand stil staan nie en nog minder jou speelmaat is.

Ons is almal op geleende tyd. Tyd is nie ons s’n nie, ons is slegs spelers in ‘n wedstryd, een waarin ons nie bewus is wanneer die eind-fluitjie blaas nie.


So, dis eenvoudig. Altans, die oplossing is eenvoudig. Leéf en hê lief, elke dag, asof vandag jou laaste is. Ek weet dit is nie so eenvoudig nie en effe onrealisties om elke dag so te lewe, maar wat is die alternatief? Daar is eenvoudig nie ‘n alternatief nie, want jy weet nie of jy môre-oggend die son gaan sien opkom nie, jy weet nie of jy nóg ‘n kans gaan hê om te kan sê, “ek is lief vir jou.”


Geliefdes is jou hartsmense, hetsy dit jou familie of vriende, of albei is, maar jy moet jou geliefdes waardeer, koester, vashou en lief hê. Wat is die lewe sonder mense wat jou hartsnare roer?


Stuur daardie sms, maak die oproep, ry die kilometers.

Vra onverskoning, gee vergifnis, vergeet die insident.

Probeer nog ‘n keer, reik uit, wees die beter mens.


‘n Mens weet nooit hoeveel jou vriendelikheid, inloer, uit reik, oproep, drukkie of hallo kan beteken. Elke mens dra sy eie kruis, party deel en ander nie, so jou belangstelling en omgee kan ‘n groot verskil maak, sonder dat jy dit besef.


Gee jou man ‘n ekstra koebaai-soen, druk jou kind stywer vas voor hy gaan slaap, stuur ‘n lekker-slaap, lief jou mamma/pappa boodskap, loer in by jou broer of suster, stuur ‘n grappie vir jou vriendin of net ‘n hallo! Hê jou geliefdes lief met alles in jou. Dis die beste geskenk wat jy vir iemand kan gee, al jou liefde, tyd en aandag.


Indien jou eind-fluitjie blaas, kan jy met ‘n geruste hart die ewige vrede betree, jou hart is leeg van al die liefde gee en jou geliefdes s’n propvol! Só ook andersom.


Omgee en liefde maak jou nie armer nie, inteendeel dit maak jou skatryk!


Ek dink elke mens wil hulle oë toe maak in die aand met die wete dat hulle geliefd is, dat hulle vergewe is, dat hulle waardeer word en dat hulle ‘n doel het om voor te lewe. Een van my grootste wense is dat die mens makliker kan vergewe. Ek inkluis. Dit sal die rieme van die lewe afhaal sodat almal volspoed elke dag kan leéf, soos hulle sou op hulle laaste dag.


556 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page