• Zandré Kotzé

Liefde en lewe na donker en dood

Ses jaar terug is my kêrel, my toekomstige lewensmaat, my eerste liefde, dood. Ek sukkel om die woord dood neer te pen, inteendeel dink ek dis die eerste keer wat ek sê, “hy’s dood.”


Die dae na sy dood was so donker en vaag, ek onthou nie veel nie, maar ek onthou ek het met die mooiste verloofring aan my vinger gesit, maar sonder ‘n verloofde, ‘n kop sonder verstaan en ‘n hart vol verlies.

Jy baklei met God, jy baklei teen jou emosies, jy baklei met mense. Die lewe het aangegaan, mense het gekom en gegaan, maar my wêreld het gaan stil staan.


Die ambulans rut, die reuk van koors, die kliniese mure van die ICU, die sout trane, die bekommerde oë, die laat nagte, die skietgebede, simpatieke drukkies, die angs, die wete, alles binne ‘n kwessie van vyf dae was vir lank al wat deur my kop gemaal het. Dis wat ek onthou het. Dis al wat ek amper steeds onthou. Die trauma oorheers al die mooi. Die groet voor jou laaste hartklop, jou laaste asem…

Dis baie om te verwerk.


God het geweet daar’s vir my weer lewe na dood. Soos elkeen van ons, was en is my padjie lank voor my geboorte reeds vir my uitgekerf. Hy het weer vir my liefde gegee. Liefde wat om die draai was. My steunpilaar tydens die hartseer tye, toe al die pad my liefde en lewe na die donker en dood.


My ouma was ook gelukkig om twee liefdes in haar lewe te hê. Ek onthou sy het eendag vir my gesê, “mens kan nie die twee mense vergelyk nie, dis twee verskillende tiepe liefdes wat mens ervaar.” Vandag het ek ‘n dankbare hart dat ek uitgekies is om twee tiepe liefdes te ken.


Soms voel jy daar’s geen lig aan die einde van die tonnel, geen lewe na die dood van ‘n geliefde, maar God kies jou pad vir jou, jy het ongelukkig geen beheer.

Die dood, donker tye, die lewe en liefde is die stukkies wat ons legkaart aanmekaar sit.


Ek glo ten volle dat Hy ‘n doel het met ALLES in jou lewe, al voel ons partykeer dat ons geensins daardie doel raak kan sien nie. Hy ken jou hart, Hy weet wat jy nodig het en wanneer.


Geliefdes in die Hemel is God se gunstelinge. My troos is dat ek ‘n rukkie kon deel wees van een van God se oogappels se tyd op aarde.

Aan die einde van die dag is ons almal tydelik, net geleen vir mekaar, bevoorreg om Sy engele te leer ken.


My liefde en lewe na dood en donker.

Ek en my man vier hom nog elke jaar, my eerste liefde en sy beste vriend.


- Zandré

744 views1 comment

Recent Posts

See All