top of page

Liefde is ‘n Werkwoord

deur Noelene Bester


Oral is bloedrooi rose, die winkels se rakke kreun omtrent van al die sjokolades en hartversierings. Romantiese boodskappe op koffie bekers en daai oulike teddie beer wat tog jou weer net omkoop om hierdie jaar weer liefde te vier.

Sosiale media is gevul met liefdes boodskappe, en hierdie jaar vir die pret daarvan, was ek ook deel van hierdie bohaai. Maar, ek is goed bewus dat liefde nie net een keer ‘n jaar gevier word nie en in ons huishouding word ‘date nights’ geprioritiseer veral met ‘n woelige 2-jarige wat baie tyd verg.


Tog kan ek nie help om hartseer te wonder waarom daar so op liefde gefokus word slegs een maal 'n jaar nie. Dit val my by, hoeveel mense loop met ‘n swaar gemoed deur die winkels en probeer al hierdie versieringe miskyk? ‘n Dag of twee na valentyns dag is alles weggepak, asof die liefde ook sommer net so gebêre kan word tot volgende jaar.


Moenie my verkeerd verstaan nie – ek is versot op sjokolade, hartjies, rose en die romantiese gedagtes van liefde, maar ‘n groot bekommernis is dat daar nie soveel moeite met die liefde gedoen word die res van die jaar nie, veral in huwelike.


'n Huwelik is konstante werk en moeite doen, en my droom is dat daar nie net die één dag van die jaar liefde, hartjies, blomme en bederfies aangedra moet word nie, maar dat dit elke dag van die jaar aangedra sal word.

Ek wens ek kan 365 dae van die jaar sjokolade eet en rose kry, maar daar is ander liefdesdade en liefdestale wat veel meer dieper is as hierdie aardse dinge.


Opbouende woorde of diensbaarheid, dalk die aanraking van jou lewensmaat of doodeenvoudig net kwaliteit tyd saam hou.


Liefde is tog 'n huwelik se fondament. God het ons in liefde bymekaar gesit tot die dood ons skei, maak nie saak wat gebeur nie. Om elke dag stywer aan mekaar vas te hou en liefde te toon maak nie saak wat nie.


Maar, dis tog so maklik om deesdae te skei of om in 'n “geriefshuwelik” saam te leef wanneer liefde selfsugtig geraak het, en dit te veel moeite geword het en ons verval het in ons eie slegte gewoontes en patrone terwyl ons op die ander party se swakhede fokus.

Die Bybel gee ons duidelike riglyne vir die huweliksdiensplan in 1 Korintiërs 13:4-7: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Ek gebruik die vergelyking - jy wag nie eers tot jou motor breek voor jy hom diens nie. Jou kar se diens word sommer al ‘n week of wat voor sy spesifieke kilometers geboek dat jy nie daardie diens mis nie. Net so, moet jy daagliks in jou huwelik belê voor daar moeilikheid begin kop uitsteek. Om iets wat reeds gebreek is reg te probeer maak, is nie so maklik nie.

In ‘n huwelik moet selfondersoek eers ingestel word om te kyk in watter maniere jy kan verander om ‘n beter huweliksmaat te kan wees. Albei het sy tekortkominge, maar ek glo vas dat in daardie krakies jou maat jou vul met liefde en dat dit heeltemal okei is. Ons is immers nie perfek nie.


Die lewe gebeur: druk by die werk, familie krisisse, ‘n geliefde aan die dood af te staan, finansiële probleme, kinders - net om ‘n paar te noem wat druk op ‘n huwelik kan plaas. Maar, hierdie dinge versterk en groei jou huwelik. Hierdie druk moet egter jou nie verstoot van jou huweliksmaat nie.

Kommunikasie! Praat, gesels en deel. Woorde kom nie altyd maklik nie, en as dit doen is dit nie noodwendig die regte woorde op daai oomblik nie, maar dit is beter as om stil te bly.

Jou huwelik word opgesom as een liggaam, siel en gees. Dus is dit belangrik om daagliks saam te droom, spandeer alleentyd saam en wees weer één.

Die huwelik is 'n konstante reis met uitdagings en harde werk en nie net 'n eindbestemming nie.

En in my oë is die huwelik die heel lekkerste reis!

Hoe klink ‘n valentynsjaar vir jou?


“Diens” jou huwelik elke dag, gee daardie ekstra druk en soen en geniet mekaar!



609 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page