Los tonge en bitter harte
Updated: Mar 11
Deur Susan Westraadt
Mooistevrou, wat sien jy as jy vandag in die spieel kyk? Iemand wat in vrede leef en die son oor almal gun? Iemand wat opstaan vir die waarheid? Iemand met ‘n los tong? Of iemand met ’n bitter hart?
Het jy dalk onlangs deurgeloop onder los tonge wat geheime uitlap en soetsappige brokkies skindernuus oor jou opdis?
Is daar iemand wat jy naby jou toegelaat het en wat jou verraai het? Voel jy vandag onseker oor wie in jou binnekring jy régtig kan vertrou?
Of is jou hart dalk so bitter weens afguns en hoogmoed, dat dit jou 2de natuur geword het om mense met jou los tong te verskeur?
Mooistevrou, vandag wil ek vra dat ons elkeen ernstig sal ondersoek instel wat ons dade én motiewe betref. Ek wens dat ons net een keer in ’n spieël kon kyk wat ons karakter wys en nie die refleksie van ons goedversorgde hare, tydsame grimering en levi’s-jeans nie. Ek wonder hoeveel van ons tevrede voor die spieël sou kon wegstap?
Ons lees in die Bybel dat Jesus ook gekonfronteer was met verraaiers en mense wat duistere motiewe vir Hom gehad het. Judas een van Jesus se dissipels was. ’n Binne-kring-man. Hy het saam met Jesus gebid, gelag en gehuil. Hy het gesien hoe Jesus wonderwerke verrig. Hy het geweet Wie Jesus was. Mens sou wou glo dat hy Jesus se hart geken het. Hy het geweet hoe bang Jesus was vir wat voorlê. Steeds het hy hom uitverkoop en verloën vir 30 stukke silwer – die waarde van ‘n slaaf in daardie tyd.
Ons kan oor baie dinge in hierdie lewe twyfel, maar een ding waaroor ons kan seker wees is dat daar op een of ander stadium ’n Judas in ons midde sal wees. Iemand wie ons gaan vertrou en wat ons gaan verraai. Iemand wat die waarheid gaan weet en die teenoorgestelde gaan verkondig. Iemand wat met ’n onrein hart en vernietigende motiewe in ons lewe geplaas word deur die duiwel, sonder dat ons óf hulle daarvan bewus is.
Los tonge veroorsaak bitter harte.
Mense wat ander loop en beskinder besef nie die skade wat hulle woorde aan iemand se huwelik, loopbaan of vriendskappe kan aanrig nie. Hulle besef nie dat die leuens of (feite) wat hulle versprei die deure toemaak waardeur iemand moes stap om sy deurbraak te kry nie. Hulle besef nie dat hulle oeste wat deur harde werk teweeggebring is, verwoes nie. Dat die skade wat aan verhoudings aangerig word, soms onherstelbaar is nie.
Skinder is n manier van regter oor ander speel. Daar is ’n korrupte regsbank, regter en n aanklaer. Hulle ruil hoorsê gerugte uit, las stertjies aan en regverdig ons vonnis. Die enigste probleem is dat ons nie van die hofdatum, die aanklagte of die aanklaers bewus is nie, en ook nie die geleentheid gegun word om ons verklaring af te lê nie. Ons word nie ondervra nie. Ons kan nie n getuienis inroep nie. Ons is dikwels ook laaste om daarvan uit te vind.
Ek wonder of ons besef dat skinder ’n vorm van boelie is. Ek wonder of daar enige diepte in die aktiewe-skinderbekke se menswees is, en of hierdie mense bloot net genot daaruit put om jou lewe, besluite en motiewe te bespreek asof hulle die reg het. Ek wonder waaroor party mense sou praat as ander mense nie een van die onderwerpe kon wees nie.
Asof hulle alles van jou wese ken en verstaan. Asof hulle die pad wat jy met God en jou man en jou kinders en vriende stap, saam stap. Asof hulle deel is van jou mislukkings of suksesse, of enigsins n aandeel daarin het. Sulke mense het geen sin vir regverdigheid nie en dikwels ‘n lae selfbeeld.
Ons eerste gedagte wanneer ons bewus word van die ligsinnige en neerhalende gesprekke wat die rondte doen, is om ’n stokkie daarvoor te steek. Hier op aarde in die vlees, is die versoeking groot om sélf ons eer te beskerm. Die Here weet, dat daar weinig mense wat dit in ons afwesigheid sal doen, of selfs ons daarvan in kennis stel. Ons is soms desperaat om ons kant van die storie te vertel. Om ons naam in ere te herstel. Maar, ons moet een ding onthou, hierdie mense stel nie belang in die waarheid nie. Hulle stel net belang in jou leed en ondergang. As dit goed gaan, verdien jy dit nie. As dit sleg gaan, het jy daarvoor gesoek.
Dis soms geweldig moeilik om nie op skinderstories te reageer nie. Maar ek wil jou verseker dat God ‘n regverdige regter is. Dat die vyand maar hul wapens kan vorm - dit sal nie slaag nie. Geen mens kan God weerhou om vir jou te gee wat Hy vir jou beplan het nie.
God se woord sê dat daar ‘n dag van oordeel sal kom. 2 Kor. 5:10: “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen van ons kan ontvang wat ons toekom vir die dinge wat ons in die liggaam gedoen het, of dit nou goed of sleg is.”
Prediker 12:14: “Want God sal elke daad in die oordeel bring, ook al die verborge dinge, of dit goed of kwaad is.”
Matteus 12:36: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen op die oordeelsdag rekenskap moet gee vir elke leë woord wat hulle gespreek het.”
Ek wil glo dat die waarheid op oordeelsdag sal uitkom. Dat my motiewe dáár, voor God se regsbank, bekend sal word. Dat die ware gebeure dáár aan die lug gestel sal word. Dat dit wat ek geê het, dáár herhaal sal word. Hierdie wete stel my gerus en maak my vry. Mooistevrou, kan jy dieselfde sê? Of sal jy op daardie dag wens die wêreld sluk jou eerder in voordat dit wat jy agter toe deure bespreek het, bekend word?
As ons die oordeel aan God moet oorlaat en Hom vertrou om vir ons te veg en vir almal te gee wat hul toekom, wat kan ons prakties hier op aarde doen om ons harte en die van ander te beskerm?
Wanneer ek in n situasie beland waar ek of ander bespreek word, bevraagteken ek onmiddellik die rede waarom n persoon (die inisieerder) iemand anders in n slegte lug probeer plaas. Deur iemand anders se kers dood te blaas gaan nie joune laat helderder skyn nie.
Ek let ook spesifiek op oor wie aan die gesprek deelneem (die saam-praters) en wie net met n mond vol tande staan (die lafhartiges). Dan maak ek 'n "high importance" aantekening in my geheue om nooit ooit iets met een van hierdie soort mense te deel nie. Jou hart sal nooit daar veilig wees nie, en nie een van hulle sal jou eer beskerm of die waarheid aan die lig stel nie. Pasop vir hierdie mense. Pasop wat jy sê. Hulle sal die waarheid verdraai soos wat dit hulle pas en hulself die slagoffer in jóú storie maak. Nie almal in jou sirkel is in jou “corner” nie.
Maak ’n beginsel besluit om nie aan ‘n tafel te bly sit waar jóú lewe bespreek word sodra jy opstaan nie. Verwelkom of sluit aan by n tafel waar ménse nie die besprekingspunt is nie. Waar jy kan praat oor die boek wat jy gelees het, en nie die nuwe vrou wat by die boekwinkel werk nie. Waar jy kan praat oor hoe jóú droom vakansie moet lyk en nie oor Berta wat alwéér Maldives toe is nie. Waar julle mekaar se suksesse kan vier en mekaar se laste kan dra. Sonder oordeel.
Mooistevrou, laat ons elkeen se kroon op haar kop hou. Laat ons mekaar se privaatheid respekteer. Laat ons voorspoed en sukses spreek in mense se afwesigheid en mag ons dit regtig vir mekaar gun. Mag ons vir mekaar opkom en mekaar se eer beskerm. As ons nie in die posisie is om ’n giftige skinder-bekkie op hul leuens te “call” nie, mag ons die moed hê om ’n klikkie-bek te wees en dié onder bespreking in kennis te stel. Niemand van ons se pad is dieselfde nie. Ons is nie aan almal ‘’n verduideliking verskuldig nie. Ons sal nooit almal tevrede kan stel nie. Dit behoort ook nie doel te wees nie. Maak stil jou los tong. Maak gesond jou bitter hart. En los die oordeel aan God.