LUISTER NA JOU LIGGAAM

Om na jou liggaam te luister, is ‘n baie belangrike deel van ‘n gesonde ingesteldheid in oefening, voeding en die lewe. Dit help jou verstaan wanneer om harder te druk, wanneer om te rus, en wanneer jy voedingsveranderinge moet aanbring.
Wat beteken dit om na jou liggaam te luister?
Dis om tyd te neem en te bepaal hoe jou liggaam reageer op oefening en sekere kossoorte.
Dis só maklik om vasgevang te word met die besige dag-tot-dag dinge van die lewe dat ons dikwels vergeet om te wag en te besin oor hoe ons voel.
Hier is my vier wenke om jou te help om meer bewus te raak van hoe jy voel en hoe om te identifiseer wat jy kan doen om jou heel beste en gesonde self te wees.
1. Hou ‘n dagboek.
Dit help om bewus te raak van hoe jy voel. Sonder ‘n vorm van ‘statisiek’ kan ons nie werklik veranderinge aanbring nie.
Sekere punte wat jy kan monitor is bv. jou kwaliteit slaap, hoe jy voel nadat jy sekere kosse geëet het en ook hoe jy voel na ‘n spesifieke oefening.
Skryf neer wat jy vandag wil doen om jouself te versorg. Dit kan iets klein wees, soos om net vir vyf minute rustig te sit en jou koffie te geniet om meer water te drink of elke aand genoeg slaap te kry!
2. Geniet jou kos.
Wanneer ons rustig sit en eet, ons kos geniet en net alles waardeer, is ons geneig om ook meer aandag te gee aan hoe ons voel terwyl ons eet en jou liggaam die geleentheid te gee om self die sein van versadiging te gee.
Neem ‘n oomblik of twee vir jou liggaam om te bepaal hoe die kos wat jy eet jou laat voel. Deur jouself te voed met die voedingswaarde van koolhidrate, vette en proteïene want dit kan jou help om te verstaan hoekom sekere kosse, ‘n sekere uitwerking het.
Die keuse van gesonde kos beteken nie dat jy die lekkernye prysgee nie!
Dit is eenvouding net om jou te help om ingestel te bly en die balans te vorm tussen hoe jy voel en wat jy eet, sodat jy altyd die beste weergawe van jouself kan wees.
3. Maak tyd vir jouself.
Die wat my ken weet dat rus en rehablitasie vir my net so belangrik is soos om hard te oefen en jou heel beste te gee. As jy jouself ‘n oomblik of twee gun om te asseseer hoe jy voel voor jy net aangaan, gee dit jou die geleentheid om ‘n meer intuitiewe besluit te neem en benadering te volg. Meer en vinnig is nie altyd wat jou liggaam benodig nie, soms net ‘n paar minute in die son en strek is ideaal.
Let ook op hoe jou liggaam voel en reageer met oefening. Haal asem tussen die wisseling van bewegings, leer ook om in te asem en uit te asem terwyl jy oefen.
4. Matigheid is die sleutel.
Dit is belangrik om jou limiete te ken – of dit met kos of oefening is.
Sodra jy werklik ingestel is, sal jy bewus wees van wanneer jy moet stop en wanneer jy meer benodig.
Wanneer jy die beginsel van matigheid gebruik, kan jy daardie sjokoladekoek en Netflix op ‘n koue dag geniet, op ‘n volhoubare gesonde manier.
Die belangrikste is dat jy nie een van die dinge waarvan jy hou, mis nie!
Om na jou liggaam te luister is ‘n ongelooflike belangrike deel van ‘n gesonde leefstyl.
Om gesond te wees, gaan oor balans, en wanneer dit kom om ‘n gebalanseerde leefstyl te handhaaf, help dit om in ooreenstemming te wees met wat jou liggaam werklik benodig!
Mag jy vreugde ervaar in die proses om jou liggaam beter te verstaan en die nodige liefde, oefening, voeding en rus te gee wat dit verdien!
Nicole Hoffmann