top of page

Méér as mansgenoeg

.

Deur Susan Westraadt



Daar is baie dae wat ek nie in myself glo nie. Waar alles wat daar buite my snoesige wol kombers wag, net vir my te veel voel.


Daar is baie dae waar ek alleen worstel en ‘suffer’ Waar ek nie my uitdagings kan verwoord nie en niemand die hartseer in my glimlag raak sien nie.


Daar is dae wat almal so vinnig hardloop en nie tyd het om vir ‘n rukkie by my stil te staan nie.


Daar is dae waar my mense meer geintresseerd is in die lewe van die kennisse op hul facebook blad, as in my realiteit.


Daar is dae wat ek liederlik faal en ek wens die lewe het ‘n ‘undo’ knoppie gehad.


Daar is dae waar dit wat ek sê en doen totaal misverstaan word. Soms nie eers raakgesien word nie.


Daar is dae wat ek voel ek nie my slegte gewoontes kan breek en wegstap van daai verdomde pakkie Whispers nie.


Daar is dae waar ek nie kans kry om my hare te was of my koffie te drink nie.


Daar is dae waar ek myself 2de of 3de stel of sommer net glad nie op die lysie van prioriteit sit nie.


Daar is dae wat ek na die wêreld kyk en skaam kry vir ons mensdom.


Daar is dae wat ek eenvoudig net nie mansgenoeg vir hierdie lewe voel nie.


En dan onthou ek die woorde van Joyce Meyer: Your feelings are real and powerful, but not more powerful than God and the truth.


En die waarheid is, ons ìs mansgenoeg.


Mansgenoeg om ons emosies in lyn te kry met ons besluite.


Mansgenoeg om ma te wees.


Mansgenoeg om ‘n besigheidsvrou te wees.


Mansgenoeg om kliphard te werk.


Mansgenoeg om ons drome waar te maak.


Mansgenoeg om ons hand uit te steek na die wie hulp nodig het.


Mansgenoeg om dit lewendig tot aan die ander kant van ons kinders se sportskedule en huiswerklys te maak.


Mansgenoeg om dieselfde lego blokkies vir die 3de keer in 1dag by die voordeur op te tel.


Mansgenoeg om daai berg skottelgoed en wasgoed skoon te kry én weg te pak.


Mans genoeg om daai kas of laai in die kombuis wat nerêns hoort te organiseer.


Mansgenoeg om hierdie siekte te oorwin.


Mansgenoeg om liefde te verwelkom.


Mansgenoeg om weg te stap van dit wat nie waarde tot jou lewe voeg nie.


Mansgenoeg om 7 sakke sout saam met ons huweliksmaat op te eet.


Mans genoeg om hoopvol te lewe.


Mansgenoeg om deur ‘n swangerskap te volhard.


Mansgenoeg om om verskoning te vra.


Mansgenoeg om te vergewe.


Mansgenoeg om terselfde tyd bang én braaf te wees.


Mansgenoeg om vir ons self te besluit.


Mansgenoeg om alleen te gaan koffie drink, fliek en reis is.


Mansgenoeg om die seisoen waarin ons ons tans bevind te verduur.


Mans genoeg om ‘n gesonde leefstyl te handhaaf.


Mansgenoeg om ons self te versorg.


Mansgenoeg om moeite te doen met ons voorkoms.


Mansgenoeg om ons woord te hou.


En mansgenoeg om nee te sê.


Terwyl ons hierdie Paasfees herdenk, wil ek jou herinner dat Jesus ons gevoelens van bekommernis, vrees, angs, pyn en teleurstelling verstaan.


Ek kan dink dat Jesus dalk nie kans gesien het vir dit waarvoor God Hom roep nie.


Hy was verloën.

Hy was bang.

Hy was gemartel.

Hy was verneder.

Hy was alleen aan ‘n kruis vas gespyker.


Maar ten spyte van hoe Hy op daardie oomblik gevóél het, het Hy besluit om gehoorsaam te wees en op God te vertrou.


Hy het besluit om vir ons genade te bewys toe daar nie genade vir Hom was nie.


Hy het besluit om geoffer te word toe ons nie vergifnis verdien het nie.


Moenie toelaat dat jou gevoelens in ‘n situasie of oor ‘n persoon jou besluite bepaal nie.


Gevoelens is onbetroubaar.


Dit wat God van jou sê is betroubaar.


Jy is vergewe.


Jy is meer as ‘n oorwinnaar.


Jy kan alles doen deur God wat jou krag gee.


Jy weet waar jou hulp vandaan kom.


Jy is méér as mansgenoeg. Jy is vrougenoeg.

395 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page