Maak dit jou missie dat ander kan sien hoe goed God IS!
Dink jy intensioneel daaroor dat ander God deur jou kan sien deur dit wat jy doen of hoe jy praat? Is dit jou missie om daagliks God se liefde en Sy woord aan ander te verkondig?
Ons Vader werk daagliks in maniere wat ons nie kan begryp nie. ‘n Glimlag van ‘n vreemdeling, hulp te aanvaar of hulp aan iemand anders te verleen, ‘n bemoedigende boodskap van ‘n vriendin, ‘n kind se lekker lag of selfs net ‘n stywe druk van jou man af.
Iets só klein het onskatbare waarde en doen dalk net genoeg vir die ander persoon sonder dat jy besef. God se goedheid en Sy guns volg ons daagliks waar Sy genade vir ons meer as genoeg is, en hoekom nie dit vrylik uitleef en deel nie?
Mooistevrou, ek wil jou vandag aanmoedig om dit jou grootste missie te maak - LAAT ANDER GOD DEUR JOU SIEN. Nie een van ons is perfek nie, maar Sy lig skyn net so helder deur jou krake. Wat jy gee, sal jy ontvang, want die son skyn oor almal.
Ons word vasgevang om dalk teveel te vra “hoekom ek” maar hoekom nie jy nie? As alles net goed gegaan het, sou jy iets daaruit leer en ‘n sterker vrou word? Elkeen van ons het groei nodig, ons elkeen is oppad iewers heen besig om ‘n verskil te maak. En sonder daardie seer of ongemaklike tye wat veroorsaak dat ons vra hoekom ek, sê dankie Here dat dit ek kan wees. Want, ek is besig om te groei. Iemand anders hou jou dalk dop en sien hoe jy groei, jy inspireer iemand anders deur jou getuienis.
Wanneer swaarkry aan jou deur klop, weet dat dit nie ñ ewigheid sal duur nie, máár die les wat jy gaan leer ‘n ewige impak op jou lewe sal hê.
Wanneer dit goed gaan met jou, moenie vergeet om steeds goed te wees vir ander en te help nie. Wanneer jou beker oorloop maak dit beslis iemand anders s’n bietjie voller wat dit nodig het.
Onthou om stil te raak en God se stem te soek, na Hom te luister & ‘n LIG te wees vir ander.