top of page

Mamma-wees is harde (hart) werk

Mamma-wees is harde werk. Daaroor gaan ek nie eers probeer mooi praatjies maak nie. Dis 24/7. Maar jy raak gewoond daaraan. Jy vind jou ritme. Jy leer die fases en roetienes aanvaar. Die harde werk kan ek doen.

Ek is net nie altyd seker of ek die 'hart' werk so goed kan doen nie. Gaan my hart dit hou vir die res van ons twee se lewe saam?

My seuntjie is 15 maande oud. Daar is dae wat ek voel ek hom al van dag 1 af gefaal. Dalk moes ek langer vel-tot-vel kontak met hom gehad het. Dalk moes ek nie na almal se raad rondom borsvoeding geluister het nie, en my instink gevolg het. Ek moes meer geduldig gewees het toe hy onbeheers gehuil het. Ek moes die oomblikke meer ingeneem het terwyl ek in die oggendure sit en winde uitvryf het.

Tydens my swangerskap was ek oortuig daarvan 'mommy guilt' is 'n keuse. En dat ek besluit het dat ek dit nie gaan ervaar nie. Ek gaan natuurlik mos net die beste vir my vlees en bloed doen. Minwetend dat soos my seuntjie gebore word, is die saadjie van 'mommy guilt' reeds geplant. Ek leef konstant met die gevoel (vrees?) dat ek nie genoeg vir hom doen nie. Wat as ek hom in my onkunde skade aandoen wat sy toekoms negatief beïnvloed? Hoe weet ek of ek hom reg grootmaak?

Daar is goeie dae wat ek glo ek is besig om hierdie mamma-wees werk onder die knie te kry. En dan is daar ander dae wat my geduld uithardloop en my trane van frustrasie vlak lê, net om later so skuldig te voel oor my optrede as gevolg daarvan. Skuld is ‘n aaklige ding en is dit hierdie stemmetjie wat my probeer oortuig dis hoekom my seuntjie eerder op tye sy pa bo my verkies. Hoekom hy dit ook soms heeltemal verloor, want hy sien mamma dit doen. Wat as ek die band wat ons moet hê klaar opgemors het?

Dan kom dagbreek. ‘n Nuwe dag. En is dit soos die Bybel sê, God se genade is elke oggend nuut. En hoe ervaar ek dit nie daar waar my seuntjie wakker word en dadelik vir my glimlag. Sy mamma. Waar ek eers bietjie langs hom gaan lê op die bed en hy styf teen my rol terwyl ek sy rug krap. Sy veilige hawe. Waar hy my later laf met ‘n oopmond soen en my gesig nader trek met sy klein handjies. Die vrou wat hom eerste lief gehad het. Als vergete en ons probeer weer vandag.

Ek dink ons interpreteer ‘mommy-guilt’ verkeerd. Ons sien dit as iets waar ons net faal en misluk en tekortkom. Maar dalk moet ons anders daarna begin kyk. Ons liefde vir ons kinders is so groot dat ons altyd in ons onperfekte menslikheid gaan voel dat ons nie genoeg doen, gee, is nie. Omdat ons die wêreld vir hulle sou gee as ons net kon.

Ek is vandag 400 maande oud (doen maar self die wiskunde) en my ma is die belangrikste vrou in my lewe. Is sy n perfekte ma? Nee. Ek is seker as jy haar vra sal sy sê daar is dinge wat sy wens sy kon oor doen of beter gedoen het. Maar dit verander nie die feit dat sy my ma is en ek haar bitter baie lief het nie.

Ek glo ons ouers het die meerderheid van die tyd dinge gedoen wat hulle in daardie oomblik gedink het die regte ding is. Net om jare later, meer volwasse en wys, te sien hoe hulle dit anders kon benader het. En net so gaan ek heel waarskynlik terugkyk en my kop skud oor sommige van die dinge wat ek gedoen het.

Daarom wat ek bid vir oneindige wysheid in hierdie grootmaak jare. Want ten einde weet net die Here wat werklik die beste vir ons kinders is. En dis dalk tyd dat ons bietjie meer genade het. Genade vir onsself, want ek glo elkeen van ons probeer ons beste. Genade vir ons ouers, wat ook toe jonk en minder wys en ervare was maar ons tog hier gekry het waar ons vandag is. En net in die algemeen genade vir mekaar, want almal probeer, almal het die Here se wysheid en leiding nodig en almal het hulle eie oorloë wat hulle nog terselfdetyd ook veg.

Ek besef my hart is te klein en swak vir hierdie mamma-wees werk. Maar ek was nooit bedoel om hierdie klein mensie met my hele hart op my eie te dra nie. Daar is ‘n hart wat groter, sterker, onbreekbaar is. Waar my mamma-hart nie meer kan nie, gee ek dit oor in Sy Vader-hart. ‘n Hart waar niks te veel, te moeilik of onmoontlik is nie. Sy teenwoordigheid maak die harde en hart werk soveel ligter.


913 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page