top of page

MENSE

Hier, waar ek vandag nog ’n kans kry, nog ’n dag die voorreg het om te lewe, wil ek kom gesels oor dit wat die lewe die moeite werd maak. Die mense wat die lewe die moeite werd maak.

Toe ek hierdie ‘mense onderwerp’ vir die eerste keer deur dink het, was die gedagtes wat by my opgekom het mense soos Edison wat ‘n gloeilamp gemaak het en die Wright broers wat met die ontwerp van ‘n vliegtuig die wêreld groter en makliker bereikbaar gemaak het. Bekende skrywers en sangers soos Ingrid Jonker en Gé Korsten het ook in my gedagtes opgekom. Ek het gedink aan poësie oor liefde en lewe en ook aan die harte wat deur al hierdie kuns aangeraak is.

Hierdie onderwerp is so maklik om oor te skryf né? Google wys vir ons duisende mense wat die wêreld waarin ons vandag leef regtig beïnvloed het of steeds doen. Diegene wat die geskiedenis vir altyd verander het deur hulle hele lewe op te offer, sodat ons teorieë oor kommunikasie kan hê en ook formules wat die massa van die son bereken. Hierdie mense moet geëer word en moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is regtig dankbaar vir hulle en die opofferings wat hulle gemaak het. Máár, vir my is hulle nie die werklike “influencers” nie, want geen teorie oor kommunikasie of formule oor hoe om by die massa van die son uit te kom kan die menslike hart veranderd los soos menslike konneksie nie.

Kyk rondom jou. Kyk na jou beste vriend langs jou. Hy is die eintlike “influencer”, die een wat by jou was toe jy die oproep kry dat jou ma dit nie uit daai motorongeluk gemaak het nie; ook hy wat vir jou koffie aangedra het om seker te maak jy druip nie al jou vakke op varsity nie (want jou ma is dood onthou). Dis die oom met ‘n berg van ‘n hart wat vir jou ‘n huis gee (al ken hy jou nie eers ‘n jaar nie). Dis jou ouers wat lewe blaas in jou drome; en ook die meisie wat elke oggend voor jou werk toe ry, en waai, altyd so vriendelik waai, want julle ken mos al mekaar. Dis ook die besige tannie met haar eie kinders en eie lewe wat muffins voor jou huis se deur kom los, want die Here weet sy weet hoe die lewe mens partykeer uit-mekaar-uit skeur, soveel so dat jy partykeer vergeet om te eet.

Ja, dit is diegene die naaste aan ons wie se teenwoordigheid ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar, wat die regte “influencers” is. Daai mense wat dit die moeite werd maak.

Ek weet hierdie is net ‘n handjie vol voorbeelde, maar die punt wat ek probeer maak is dat jy nie ‘n wêreldbekende ikoon hoef te wees wat slimfone of wiskundige programme ontwerp om die wêreld te beïnvloed nie. Ek wil hê ons almal moet besef dat ons, net soos ons is, die wêreld kan beïnvloed. Deur liefde, vriendelikheid en tyd aan mekaar te gee, kan ons hierdie lewe vir mekaar ‘n beter plek maak.

Om ‘n “influencer” te wees, het ek wel besef dat jy baie meer van jouself moet gee omdat jy doelbewus moet kies om teenwoordig en eg te wees in elke oomblik, maar ek kan getuig, dis SO die moeitewerd.

Sê altyd dankie en moet nooit ophou moeg raak om te kies om lief te wees nie.

Ek bid vandag Psalm 16:6 oor jou liewe mooiste vrou, dat jy so elke nou en dan kan op kyk en kan getuig– “Die meetsnoere het vir my op lieflike plekke geval. Ja, wat ek ontvang het is vir my mooi.”


262 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page