top of page

Moenie Alleen Dra Aan Jou Laste Nie

Niemand hou van foute maak nie. Baie maal is dit vernederend of jy eindig op om skuldig te voel of die gevolge daarvan spook vir jare by jou. Vir my is dit die ergste wanneer ek voel dat ek iemand na aan my seergemaak het. Ek dra swaar aan die las en veral as ek nie seker is hoe om dinge weer reg te maak nie.


Die Woord sê ons moet ons sorge op die Here werp (Psalm 55:23). En ons doen dit tog, nie waar nie? Maar hoekom voel ons nie dan beter nie? Is dit dalk omdat ons ons laste na Hom toe neem en dit by Sy voete plaas terwyl ons Hom ons sorge meedeel, net tot wanneer ons egter klaar is en dan tel ons weer ons laste op en dra dit verder?


Ons leef soms met hierdie idee in ons kop dat omdat ek aanspreeklik is vir dit wat gebeur het, is dit net reg dat ek met die las en die skuld moet saamleef. Ons straf onsself dus inderwaarheid omdat ons glo ons verdien dit om te voel soos wat ons voel. Om na die Here toe te gaan en Sy hulp en leiding te vra voel nie reg nie, want dis amper asof jy van Hom verwag om dit wat gebeur het net uit te wis.

Dit is glad nie die geval nie en ja, al ons aksies, goed of sleg, dra gevolge, maar dit beteken nie jy hoef alleen te staan nie.

Die Here is selfs daar vir ons wanneer ons aangejaag het. ‘n Ouer sal tog self ook sy/haar kind probeer help as hulle iets verkeerd gedoen het. Hoeveel te meer sal die Here nie vir ons as Sy kinders nie?


Om na die Here toe te gaan beteken nie jy wil nie verantwoordelikheid aanvaar vir wat gebeur het nie. Dis ‘n manier om voor die groot, almagtige God te kom staan en te erken: Here, ek het ‘n fout gemaak. Dis om Sy leiding te vra oor wat die volgende stappe is wat jy moet neem om dinge te herstel indien moontlik. Dis om nie alleen jou laste te dra nie.

Toe ek ook onlangs met die Here gesels juis oor ‘n verhoudingsituasie wat skeef geloop het, vind ek heeltyd hoe ek vashou aan die laste. Ek hoor hoe ek die Here vra hoekom Hy my sal wil help, want ek was verkeerd. Dis toe dat ek Hom hoor fluister:

As ek verwag het dat jy jou laste alleen moes dra, sou ek mos nooit vir Jesus in die eerste plek gestuur het om juis vir jou foute en terkortkominge te sterf nie. Dan kon ek jou mos gestraf het daarvoor.


Jesus het reeds die straf vir ons sondes betaal. Ons hoef nie meer alleen ons laste rond te dra nie. Die Here wag dat ons net by Hom sal kom sit en die laste daar los. Hy is in staat om die hele situasie om te draai in iets moois. Daar is niks te groots, te moeilik, te ver van die pad af of te hopeloos vir Hom nie. Gee Hom net daai laste en sien wat maak Hy daarmee.


291 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page