Moenie dat ander jou vreugde steel nie - ♡
“I will see you again and you will rejoice, and no one will take away your joy…Very truly I tell you, my Father will give you whatever you ask in my name. Until now you have not asked for anything in my name. Ask and you will receive, and your joy will be complete.”
John 16:22-24 NIV
Vreugde is ‘n kort maar tog kragtige woord. ‘n Woord wat ons van kleintyd af geleer het om te vind in spesiale, unieke en blywende oomblikke in die lewe. Maar hoekom sal ons net vreugde vind in sekere oomblikke van die lewe as ons in Johannes 16 lees, dat as ons vra sal ons vreugde voltooi wees. Beteken dit nie dan dat vreugde meer gesien moet word in ons lewens as ‘n dieper verbintenis tot dit wat ons elke dag doen nie. Moet vreugde dan nie deel word van ons gemoedstoestand of harte nie?
Elke dag word ons opnuut gekonfronteer met ‘n moeilike projek, maar ons kies om dit positief aan te pak sodat ons die beste maak van die situasie. Elke oggend kies jy om met ‘n glimlag die huis te verlaat sodat jou dag vlot sal verloop. En elke dag kies ons om die beste te doen wat ons kan. So hoekom sal ons kies dat ander ons vreugde steel?
Ons is so gefokus daarop om ander gelukkig te hou deur dit wat ons doen of dit wat ons sê dat dit elke dag sonder dat ons besef, stukkie vir stukkie vreugde van ons wegneem. Ons spandeer soveel energie en tyd om aan die standaarde van ander te voldoen sodat ons hulle goedkeuring, respek en aansien kan kry maar dit alles tot nadeel van onsself. Wanneer ons so gefokus is om ander tevrede te stel vergeet ons van dit wat in werklikheid van ons weggeneem word. Ons maak onsself oop dat ander ons innerlike vrede en vreugde steel sonder dat hulle eers daarvan bewus is.
Met dit bedoel ek nie dat ons nie moet omgee vir ons geliefdes en die mense wat vir ons iets beteken nie. Ek meen daar is tog ‘n rede dat iets jou so pla, die persoon het erens in jou lewe ‘n impak gehad of moet nog deel vorm van jou toekoms. Wat ek hiermee bedoel is in plaas daarvan dat ons so gefokus raak op ander wat ons vreugde steel, moet ons dalk eerder fokus op ons verhouding met God. Ons moet die situasie wat jou innerlike vreugde en vrede omkrap, opdra aan hom sodat Hy die uitkoms of toekoms daarvan kan bepaal.
Daar is baie min vrede en geen vreugde daarin om ander te probeer gelukkig maak, maar daar is baie vrede en oorweldige vreugde in ons verhouding met God. Vreugde vanaf God is soveel dieper, ryker en stabiel as wat ons probeer vind in ons daaglikse lewens en by ander. Verhoudings met ander is vir my een van die belangrikste faktore in my lewe, maar ek het besef dat ek nie my vreugde kan prys gee oor iets wat ek nie beheer het oor of kan verander nie. Verhoudings tussen mense word beïnvloed deur emosies, gevoelens en omstandighede, want ons almal bly mens. Maar as ons, ons verhoudings opdra aan God kan ons weet dat Hy die enigste ware bron van vrede en vreugde is. Dit sal dan veroorsaak dat verhoudings vreugde bydra in ons lewens.
Vreugde moet die daaglikse versekering wees dat God in beheer is van elke liewe situasie in ons lewens. Vreugde moet ‘n daaglikse keuse wees sodat ons nie vrede verloor in onbeheerbare omstandighede nie. Vreugde is die ontasbare sekerheid dat op die ou end van die dag alles sal uitwerk soos dit moet en dat dit wat vir ons goed is herstel sal word en voortbou. Dit wat ons vir belangrik is – verhoudings, omstadighede en enige ander bron wat moontlik ons vreugde kan steel - moet opgedra word aan God sodat Hy die vreugde wat daaruit voortleef volledig kan maak.
Mag jy besef dat ons nie moet toelaat dat ander ons vreugde te steel nie. Mag jy baie vrede en oorweldigende vreugde daagliks beleef in alles wat jy doen en elke verhouding wat vir jou belangrik is. Mag jy jou energie en tyd spandeer op mense wat jou lewe verryk en wie jou verhouding met hulle ook sal opdra aan God, sodra dit hulle vreugde begin steel, want dit is meer as goud werd.
- Liefde Charné ♡