top of page

Moenie net bestaan nie, begin lewe.

Ons as mens het die kuns verloor om te lewe vir vandag en om dit wat na ’n goeie vandag gelei het, te koester. Ons word vasgevang in al ons doelwitte dat ons vergeet om te lewe. Ons lewe vir môre en nie vir vandag nie. Ons het ook ’n wanpersepsie dat as jy ’n Christen is, jy die lewe nie te veel moet geniet nie maar ons vergeet die Here gun vir ons ’n lewe van guns.


Die roetine van elke dag kan mens laat voel dat jy net bestaan. Elke dag dieselfde storie soos die dae verby gaan, maar jy voel nie of jy werklik lewe nie.Dit kan so maklik gebeur met alles wat om ons aangaan dat ons net vorentoe ploeter maar niks geniet nie. Jou werk vereis dalk baie van jou dat jy eintlik vergeet om te lewe want al waarop jy fokus is om jouself konstant af te sloof en te “stress” oor môre.


Ek het een keer raak gelees: “If you knew how quickly your boss will replace you if you die, you will pay more attention to your family rather than your job.” Dit is so waar en laat mens net weereens besef hoe kosbaar tyd is. Daar is meer aan die lewe as jou werk. Jy kan nie kies hoe jy gaan sterf nie maar jy kan kies hoe jy gaan lewe.

Jy het dalk verkoue en voel so skuldig om af te wees van die werk af maar onthou deel van die lewe geniet is ook om na jouself te kyk. Jy kan nie jou lewe ten volle geniet as jy konstant siek of oorlaai voel nie. Ons is geneig om vas te haak by gister dat ons vergeet van nou. Ons leer van “change management” by die werk maar ons vergeet om dit toe te pas in ons eie lewens. Wees gaaf teenoor jouself. Stel jouself eerste asook jou gesondheid.


Moet ook nie dink dat jy die lewe net kan geniet as jy op duur vakansies gaan nie of as jy baie geld het nie. As jy jaag na môre se rykdom mis jy die genietinge van vandag.Daar is soveel klein goedjies wat jy kan geniet. Moenie dat ander vir jou besluit wat jou sal gelukkig sal maak nie maar wees oop vir nuwe idees. Sny negatiwiteit uit jou lewe. Mense kan soms die lewe uit jou tap daarom is dit belangrik om positiewe mense om jou te hê. Raak betrokke in plaas daarvan om net die kyk hoe jou lewe verby jou gaan. Doen iets wat jou bang maak.


Hoekom is dit belangrik om die lewe te geniet ? Jy het net een lewe. As jy eendag terug kyk na jou lewe, wil jy graag kan sê ek het my lewe ten volle benut en geniet. Iets ernstig moet nie gebeur dat jy dan eers besef jy moet jou lewe geniet nie. Soveel mense gaan deur iets baie erg en dan eers besef hulle, hulle het nooit gelewe nie. Moenie wag tot dan nie.


Hoe kan ons lewe vir vandag ? Doen iets vandag wat lekker is, reel ’n afspraak saam met ‘n vriend/vriendin wie jy lanklaas gesien het,bel jou familie vir wie jy solank opsy skuif, bederf jouself , bederf iemand anders, neem dalk vandag daardie groot besluit waarmee jy wortsel, maak vandag dinge reg met iemand wat jy lankal uitstel, beplan meer vir vandag as vir môre maar die belangrikste ; glimlag vir ’n slag.

“In each and every moment we’re composing stories of our lives, let’s aim to make it a meaningful read or at least an interesting one” – The Professor

Om die lewe ten volle te geniet beteken om elke geleentheid aan te gryp sodat jy ’n gelukkige en betekenisvolle lewe kan leef. Sê vir jouself elke dag, “Ek gaan hierdie dag geniet “. Dit bly ’n keuse wat jy maak. Jy is so gelukkig soos jy besluit om te wees. Besluit vandag om voluit te lewe en dit te geniet.

1,792 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page