• Bianca Brits

Moenie Toelaat Dat Ander Woorde Op Jou Lyf Skryf Nie

"Sticks and stones might break my bones, but words wil never hurt me." Hierdie ou bekende rympie word vinnig en met volle selfversekering afgerammel te midde van 'n woordgeveg. Maar meestal word dit as 'n verdedigingstegniek gebruik, want die waarheid is: woorde maak seer; soms die seerste. Meeste letsels genees. Beendere word weer heel. Maar woorde word op jou vel ingeëts en kan jy dit vir die res van jou lewe saam met jou dra asof daardie name wel aan jou behoort. Opinies wat ongevraagd gelewer word. Kommentaar wat geuiter word sonder om te dink. En sêgoed wat mos 'net 'n grappie' is. Later is jou vel so ingekleur deur die woorde van ander dat jy nie eers meer kan sien wie jy was nie.


Hoe lyk jou lyf? Wie se woorde het jy toegelaat om op jou vel geskryf te raak?


Ek het net weer onlangs ervaar hoe iemand tydens 'n alledaagse gesprek links en regs net woorde uiter wat eintlik taktloos en ongevoelig is. En hoe sy 'skadelose opmerking' 'n vriendin selfbewus en ongemaklik laat voel. My hart was so seer vir haar en het dit my net opnuut laat besef dat ons nie noodwendig die mag het om ander se woorde en tong te beheer, maar ons moet beheer neem oor wat ons gaan laat deel vorm van wie ons is. Te veel mense het reeds deur die jare op ons lywe kom skryf.


Kommentaar wat oor ons gemaak is as jong meisies, as ongetroude dames, as getroude vroue, as mammas. Kommentaar wat ons toe ons s'n gemaak het. Soos 'n tatoeërmerk wat onverwyderbaar is.


Maar dit hoef nie te wees nie. Ander mense se woorde het nie die laaste sê in jou lewe nie. Daar is net Een wie se woorde oor jou lyf geskryf mag staan. Een wie se woord lewe dra. Een wat die waarheid praat.


Begin jou vel van vooraf inkleur en draai hierdie keer na die Woord van God. Daar sal jy woorde vind wat beskryf wie jý werklik is:


- jy is geliefd (Efesiërs 4:1)

- jy is vry (Romeine 8:1-2)

- jy is nuutgemaak (2 Korintiërs 5:17)

- jy is gekies (1 Tessalonisense 1:4)

- jy is Sy handwerk (Efesiërs 2:10)

- jy is heilig (Efesiërs 4:24)

- jy is God se tempel en die Heilige Gees woon binne jou (1 Korintiërs 6:19)


Dis nie altyd maklik om die geskree van die wêreld uit te sny nie, maar ons kan en mág nie meer ander soveel toestemming gee om vir ons te sê wie ons is wanneer die Koning van die Heelal ons reeds as Sy kind aanvaar het nie. Daar is 'n hele boek met woorde wat jou beskryf. Vul jou lyf daarmee dat dit later so baie raak en daar nie meer plek is vir enigeimand anders se woorde nie.


En wanneer jy wel die kans kry, spreek God se Woord oor ander uit en help hulle ook hulle lywe vul met Sy kommentar en opinie oor hulle.

217 views0 comments

Recent Posts

See All