Mooiste vrou, ek belowe eendag sal dit alles sin maak.

Alles sal eendag sin maak, jou kop sal steeds in die wolke wees, maar jou hart sal hoër styg as dit! Dink aan al die drome wat eens in jou gedagtes geleef het – jy het die vertroue gehad om hul vry te maak en nou is hulle in die wêreld om te bly. As jy in jouself glo, kan elke wonder in die wêreld geskep word. Jy hoef nie op iemand anders te wag vir “validation” nie.


Jy sal elke weergawe van jouself ontmoet, maar jy moenie vergeet van die hartsmense wat jou tot op hierdie plek gebring het nie. Ek wonder hoeveel weergawes jy deurgemaak het van jouself, maar nie raak gesien het nie. Wees dankbaar vir daardie weergawes, want hulle het jou tot op hierdie oomblik gelei.


Maak nie saak hoeveel keer jy jouself probeer oortuig dat jy nie floreer nie, onthou wie jy was en wie jy nou op hierdie oomblik is. Die wêreld draai steed sop sy as, of jy nou in jou gedagtes vassteek of in Timbaktu se strate ronddwaal. Ons almal floreer. Ons almal gebeur. Oomblikke en geleenthede kom. Moenie wegkruip agter die konsep van “eendag”, wanneer jy vandag daai dag kan maak nie.


Hoe kan dit nie sin maak as daar oral om ons droomagtige tonele is nie? Muur blomme groei in die krake van die sypaadjies en die wind skep die fynste simfonieë op die droogste dae. Ons kan die stilte van die sterre deur on vensters hoor, en o mooiste vrou, ons is in staat om verlief te raak op alles wat rondom ons is. Wat ‘n droom leef ons in, hoe pas dit alles so naatloos inmekaar.


Ons maak deel uit van die skildery en die laaste afronding word nog gemaak.

Alles wat jy deurgemaak het, al die struikelblokke, die vrees, die hartseer, die bitterheid, die bekommernis – eendag sal jy weet dat elke stap, elke verandering, elke herinnering he tjou gemaak wie jy is. Dit het jou sterker gemaak. Dit het jou wyse lesse geleer. Dit het jou ‘n lewe gegee wat die moeite werd is om oor te glimlag.


En miskien sal jy eendag sien dat die lewe werklik mooi is, en jy ook!


1,100 views0 comments

Recent Posts

See All